Crime

Amen — en weg is selfone en baadjies

Inwoners van die Bela-Bela-township het verlede week die slagoffers geword van ’n vermeende swendelaar wat hom glo as “’n man van God” aan hul voorgestel het.

Die inwoners het op Vrydag 12 Augustus om 18:30 besoek van ’n onbekende man by hul huis ontvang. Die man het aan die huisbewoners gesê dat hy graag vir hulle wil bid, het lt.kol. Annemarie Smith, speurtakhoof, aan Die Pos gesê.

Die huisbewoners het nie onraad vermoed nie en die onbekende man ingenooi waarna hy hulle versoek het om te kniel. Hy het aan die mense gevra om hul selfone buite bereik te sit en dit te bedek sodat die fone nie hul aandag aftrek tydens die “geestelike ervaring” nie, het Smith gesê.

Nadat hy vir hulle gebid het en ook geleentheid vir stilgebed gegee het, het die mense hul oë oopgemaak en gevind dat die man, asook die vyf selfone wat hulle vroeër buite bereik moes plaas, verdwyn het. Die man het ook twee baadjies van die inwoners gesteel.

Die verdagte is vier dae later op Dinsdag 16 Augustus in hegtenis geneem. Een van die baadjies was volgens die polisie nog in sy besit. Hy het die selfone glo reeds verkoop.

Tebogo Raselane (36) het op Donderdag 18 Augustus in die Bela-Bela-landdroshof op aanklag van diefstal verskyn.

Die saak is uitgestel na Woensdag 28 September. Hy het sy borgtogaansoek laat vaar en word steeds aangehou.

  • Die publiek kan die Bela-Bela-polisie by die volgende nommers bereik:

– Die polisiestasie se kliëntedienssentrum by tel. (014) 736 9760/9761 of tel. 079 889 5614.
– Kol. Abel Phetla, stasiebevelvoerder, by tel. 082 565 8512.
– Lt.kol. Piet Maswanganyi, sigbare polisiëringsbevelvoerder, by tel. 082 414 2704.
– Lt.kol Annemarie Smith, speurtakhoof, by tel. 082 319 9336.
– AO Johan Momberg, sektorpolisiëring, by tel. 082 729 0259.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button