Crime

Borgtogaansoek van oud-Nylie se vermeende moordenaar weer uitgestel

Karabo Frans Sebopelo, wat aangekeer is in verband met die moord op Kgomotso Maropola (25), se aansoek om borgtog is op Vrydag 12 Augustus weer uitgestel.

Sebopelo (25) is op Vrydag 15 Julie in Modimolle in hegtenis geneem in verband met die moord op Maropola in Maart vanjaar. Sy was ten tyde van haar dood ’n hulponderwyser by Hoërskool Nylstroom en ook ’n oud-Nylie. Sebopelo is by die Modimolle-polisiestasie aangehou en het op Maandag 18 Julie die eerste keer in die streekhof verskyn.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, is die saak uitgestel tot Woensdag 24 Augustus omdat daar intussen ’n tweede aanklag, naamlik dwarsboming van die gereg, teen Sebopelo gelê is.

Volgens die staatsaanklaer sal die staat sy aansoek om borgtog teenstaan weens die ernstige aard van die misdaad. Daar word ook gevrees dat die gemeenskap moontlik reg in eie hande kan neem omdat die misdaad as geslagsgebaseerde geweld beskou word.

Maropola, beter bekend as Pene, het in 2016 aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Haar familie het haar op Sondag 6 Maart omstreeks 22:15 as vermis aangemeld nadat sy nie die Sondagoggend huis toe gekom het nie. Sy is laas op Saterdag 5 Maart omstreeks 17:30 by ’n vriendin se broer se huis in die Phagameng-township in Modimolle opgemerk. Die vriendin het na bewering klere aanlyn bestel wat Maropola daar moes gaan afhaal.

Dit is volgens die polisie by hierdie huis waar die polisie se ondersoekspan DNS-monsters ingesamel het wat Sebopelo met die moord verbind het.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo is haar liggaam omstreeks 08:30 op Woensdag 9 Maart in ’n vlak graf naby die treinspoor in die omgewing van die rioolsuiweringswerke in Phagameng gevind. Die nadoodse ondersoek het aangedui dat sy vermoedelik met ’n voorwerp oor die kop geslaan en verwurg is.

Sebopelo bly intussen in aanhouding by die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria tot sy volgende hofverskyning in Modimolle op Woensdag 24 Augustus.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button