Crime

Bejaardes word teiken van sakkerollers by sakesentrums

Die Suid-Afrikaanse polisie diens in Modimolle waarsku bejaardes om uiters waaksaam te wees wanneer hulle inkopies doen en geld by ’n kitsbank of enige ander plek onttrek.

Polisiewoordvoerder AO James Findlay het aan Die Pos gesê daar was onlangs ’n paar voorvalle waar pensioentrekkers geteiken is.

Die een voorval het op Dinsdag 5 Julie by Shoprite in die ModiMall in Modimolle gebeur. ’n Bejaarde vrou het die betrokke dag by die Money Market geld onttrek en is vermoedelik deur die skelms dopgehou. Findlay het gesê hulle het agterna duidelik op die kringtelevisie gesien hoe die een skelm die vrou se beursie ongemerk uit haar handsak steel waarna hy die buit aan sy makker oorhandig wat homself vinnig uit die voete gemaak het.

Findlay het gesê dié booswigte werk gewoonlik twee-twee saam. Die een sal die slagoffer se aandag aftrek terwyl die ander een buit maak op hul waardevolle persoonlike besittings.
’n Soortgelyke voorval het op Sondag 17 Julie by Pick n Pay in die Sparrow-sentrum in Modimolle plaasgevind. Hierdie keer was dit ’n pensioentrekker wat met behulp van ’n loopraam oor die weg kom wat van haar beursie besteel is.

Nog ’n voorval het op Vrydag 22 Julie by dieselfde winkel plaasgevind. Die slagoffer, wat gewoonlik saam met ’n vriendin inkopies doen, was die betrokke dag op haar eie. Sy het oudergewoonte haar handsak bo in die trollie gesit maar toe sy by die kasregister kom om haar inkopies te betaal, was haar handsak skoonveld. Die bejaarde slagoffer het aan Die Pos vertel dat die winkelpersoneel baie behulpsaam was. Een van hulle het haar ná die voorval huis toe geneem sodat sy haar spaar motorsleutel kon gaan haal. Die winkelbestuurder het ook haar inkopies aan haar geskenk om hul meegevoel te betoon.

Findlay waarsku inwoners, veral pensioentrekkers, om op die uitkyk te wees vir verdagte mense wat tydsaam deur winkels drentel sonder om items in hul mandjie of trollie te laai, want hulle doen verkenningswerk vir hul volgende teiken. Soms het die sakkerollers glad nie ’n mandjie of trollie vir hul inkopies nie wat ook verdag is.

“Die ander manier om persoonlike besittings te buit is om toe te slaan wanneer die persoon besig is om hul inkopies in die kattebak te laai,” het Findlay gesê.

Die meeste mense sit eers hul handsakke of selfoon en beursie op die bestuurderskant se sitplek voordat hulle die inkopiesakke in die kattebak laai. Die skelms, wat tussen die geparkeerde motors gereed staan, kan dan blitsvinnig die besittings op die voorste sitplek buit en laat spaander.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button