CrimeNews

Verdagte agter tralies ná jong Modi-vrou se dood

Die moord op Kgomotso Maropola (25), beter bekend as Pene, het die gemeenskap van Modimolle in Maart vanjaar geskok.

Karabo Frans Sebopelo (25) is op Vrydag 15 Julie in Modimolle in hegtenis geneem in verband met die moord op Maropola vier maande tevore. Hy is by die Modimolle-polisiestasie aangehou en het op Maandag 18 Julie in die streekhof verskyn. Sy borgtogaansoek sal op Maandag 25 Julie aangehoor word.

Maropola was ten tyde van haar dood ’n hulponderwyser by Hoërskool Nylstroom waar sy voorheen ook ’n leerder was en in 2016 gematrikuleer het. Haar familie het haar omstreeks 22:15 op Sondag 6 Maart as vermis aangemeld nadat sy nie huis toe gekom het nie. Sy is omstreeks 17:30 op Saterdag 5 Maart laas by ’n vriendin se broer se huis in die Phagameng-township in Modimolle opgemerk. Die vriendin het na bewering klere aanlyn bestel wat Maropola daar moes gaan afhaal.

Haar familie het, in samewerking met die plaaslike polisie, ’n soektog in die township geloods. Daar is by al haar familie, vriende en kennisse aangeklop in die hoop dat iemand dalk geweet het waar sy was. Talle boodskappe is op sosiale media versprei en ’n groot groep mense van die gemeenskap het gehelp soek na haar.

Karabo Frans Sebopela (25) is op Vrydag 15 Julie deur die Modimolle-polisie in hegtenis geneem in verband met die moord op Pene Maropola, ’n hulponderwyser by Hoërskool Nylstroom in Modimolle (foto bo).

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale woordvoerder, se oorspronklike mediaverklaring is die polisie se soektog op Woensdagoggend 9 Maart in alle erns voortgesit met behulp van die honde-eenheid en ’n spesiale ondersoekspan, asook lede van die publiek. Dié gewilde oud-Nylie se liggaam is omstreeks 08:30 die Woensdag in ’n vlak graf naby die treinspoor in die omgewing van die rioolsuiweringswerke in Phagameng gevind. Sy is vermoedelik met ’n voorwerp oor die kop geslaan en verwurg. Die polisie se taakspan het op Maandag 14 Maart ’n lasbrief bekom om ’n huis in die townhsip te deursoek waar DNS-monsters vir forensiese ontleding ingesamel is. Sebopelo is daarna met die moord verbind en naby sy woning in Phagameng aangekeer.

Die Pos het met Tshabane Theo Maropola, ’n familielid van die oorledene oor die voorval gepraat.

“Ons is nog steeds geskok oor haar dood. Die hartseerste van alles is dat haar tweejarige seuntjie nou sonder sy ma moet grootword. Ons sal Kgomotso se borrelende persoonlikheid ontsettend baie mis,” het hy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button