CrimeNews

Meer as 30 in hegtenis oor beweerde onwettige grondbesetting in Bela-Bela

Die vonke het die afgelope drie weke in Bela-Bela gespat oor ’n vermeende onwettige grondbesettingspoging.

Foto’s van die bedrywighede naby Buyskop, net buite Bela-Bela, is wyd op sosiale media deur die plaaslike EFF-tak versprei.

Die betrokke gebied waar die voorval plaasgevind het, is tussen Buyskop en Uitbreiding 9 van die Bela-Bela-township. Die gebied kan nie vanaf die R101-pad na
Modimolle bereik word nie, maar slegs deur die township.

Op die foto’s wat gedeel is, kon daar gesien word hoe mense stap en “erwe” vir hulself “uitlê”.

Verskeie bronne beweer dat mense hierdie erwe teen ’n geringe bedrag “gekoop” het.

’n Woordvoerder van die EFF, wat nie sy naam in die koerant genoem wou hê nie, het aan Die Pos gesê hulle is besig met ’n “projek” en beoog om verligting te bring vir die groot aantal mense wat nie grond of behuising het nie.

Lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-polisiespeurtakhoof, het by navraag gesê die polisie het reeds stappe teen die vermeende grondbesetters én die organiseer-
ders van die “projek” geneem en altesame 33 mense in hegtenis geneem. Hulle het reeds vlugtig in die hof verskyn en is gewaarsku om op Woensdag 17 Augustus weer in die hof te wees.

Volgens Smith het die wettige eienaar van die grond reeds sake van betreding by die polisie aanhangig gemaak. Die grond is sover vasgestel kan word in privaat besit van die Rua-Naga Trust.

Die organiseerders van die grondgrypaksie het intussen aan Die Pos gesê hulle het besluit om nie voort te gaan met die besetting nie.

  • Die EFF was in 2017 ook in die spervuur toe hulle daarvan beskuldig is dat hulle mense aangehits het om grond te gryp op die munisipale grond reg langs die Alma-pad en teen die grensdraad van die Renaissance-aftreeoord en die dorp se reservoirs.

Dit is hierdie gedeelte wat tans oorweeg word vir die vestiging van ’n botaniese tuin in Bela-Bela. Vergaderings tussen die loodskomitee en die munisipaliteit hieroor is reeds aan die gang.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button