CrimeNews

Voertuigdiewe se planne gefnuik

Motordiewe het verlede week die Bela-Bela-veiligheidsektor onderskat en hul rieme styfgeloop nadat hulle gepoog het om twee voertuie in die Roodekuil-omgewing te steel.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-polisiespeurtakhoof, het drie verdagtes tussen Dinsdag en Woensdag 5-6 Junie twee eiendomme geteiken.

Die verdagtes het tussen 17:40 en 05:30 daarin geslaag om ’n Mazda Drifter-bakkie en ’n Nissan Sentra-voertuig, te steel.

Een van die hoewe-eienaars se hond is tydens die voorval vergiftig.

Verskeie op-en-wakker-rolspelers is gemobiliseer en het die verdagtes in die rigting van Pretoria gevolg.

Volgens inligting van die gemeenskappolisiëringsforum is die twee voertuie tussen 03:00 en 04:00 by die Mantsole-weegbrug op die R101-pad na Pienaarsrivier opgemerk.

Die verdagtes is voorgelê, maar het probeer om die owerhede te ontduik deur voet in die hoek te sit en vir die polisie weg te jaag.

Die Mazda is uiteindelik, ongeveer 2 km vanaf die Mantsole-weegbrug tot stilstand gedwing en ’n verdagte is in hegtenis geneem.

Die tweede voertuig is in Zaagkuilsdrift naby Pienaarsrivier verlate op ’n grondpad gevind.

Smith het gesê dit lyk asof twee verdagtes in die Nissan was. Hulle is tans nog op vrye voet. Die voertuie is deursoek en verskeie items wat vermoedelik gesteel is, is daarin gevind. Dit sluit in motorwiele, spaarbande, brandstof, kompressors, heiningdraad, boorgatkabels, batterylaaiers, trekkerbatterye, ’n besem en ’n klankstelsel.

Een verdagte, Richard Matabane, het reeds in die Bela-Bela-landdroshof verskyn op aanklag van diefstal.

Die saak is uitgestel na Donderdag 14 Julie vir verdere ondersoek.

Rolspelers wat bygedra het tot dié inhegtenisname, sluit in LHP Waterberg, Bela-Bela- en Pienaarsrivier-polisie, die K9-eenheid van Modimolle-polisie, Mantsole-verkeersbeamptes, Waterberg OPS Groep, Makanyane Anti Poaching-eenheid, asook lede van die Radium- en Roodekuil-, Turfbult- en Langlaagte-buurtwag (RTL) se reaksiespan. Hulle is bygestaan deur die Tiaan Oosthuizen-gedenkbeheerkamer (TOM) se lede in Bela-Bela.

Related Articles

Back to top button