CrimeNews

Vermeende rowers loop hul rieme styf

Daar is beslag gelê op twee vuurwapens, ammunisie en toerusting wat in inbrake gebruik word.

Die vernuftige spanwerk van plaaslike instansies het op Dinsdag 5 Julie gelei tot die inhegtenisname van vyf vermeende rowers voordat hulle op ’n plaas buite Vaalwater kon toeslaan.

Die span het gereageer op inligting oor ’n beplande rooftog wat glo vroegaand sou plaasvind en die hulp van verskeie polisie-eenhede, asook lede van die gemeenskap, is ingeroep om op die uitkyk te wees vir die verdagte voertuig.

Die voertuig is omstreeks 18:30 op die Melkrivier-pad, op pad na die betrokke plaas, voorgekeer. Vyf insittendes, met ouderdomme wat wissel van 39 tot 60 jaar, is in hegtenis geneem.
Daar is beslag gelê op twee vuurwapens, ammunisie en toerusting wat in inbrake gebruik word.

Brig. Motlafela Mojapelo het die volgende dag ’n mediaverklaring uitgereik waarin hy en die provinsiale kommissaris van polisie, lt. gen. Thembi Hadebe, die betrokke eenhede bedank vir hul samewerking en flink optrede. Die Modimolle-misdaadintelligensie-eenheid, Limpopo-snelwegpatrollie (Highway Patrol), die eenheid vir bedreigde spesies, lede van die Vaalwater-gemeenskapsdienssentrum, asook die reaksie-eenheid van die Shambala Welgevonden-wildreservaat was deel van die operasie.

Volgens Mojapelo is daar vasgestel die vyf is almal Suid-Afrikaanse burgers wat nie met enige vorige oortredings verbind word nie.

Die vyf het op Donderdag 7 Julie vlugtig in die Modimolle-streekhof verskyn op aanklagte van die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie. Hulle word ook aangekla van die besit van huisbraaktoerusting.

Die name van die mans word op versoek van die polisie weerhou omdat dit op hierdie stadium die ondersoek kan benadeel.

Enigiemand met nuttige inligting kan die Vaalwater-polisiestasie skakel by tel. 079 888 9862 of vir kons. Thabiso Kekana (woordvoerder) by tel. 071 096 8331.

Related Articles

Back to top button