CrimeNews

Rowers blaas kitsbanke op

’n Groep waaghalsige rowers het in die vroeë oggendure van Donderdag 30 Junie ’n vulstasie by die Radium-winkelkompleks langs die R101-pad met plofstof opgeblaas.

Volgens sers. Frans Maponya, Bela-Bela-polisiewoordvoerder, het die voorval omstreeks 00:15 die Donderdag afgespeel.

“Ses verdagtes het in ’n onbekende wit voertuig by die vulstasie opgedaag en brandstof ingegooi. Toe hulle moes betaal, het twee van hulle ’n geweer en ’n handwapen uitgepluk en op die pompjoggie gerig.”

Die rowers het gesigmaskers en handskoene gedra.

Die pompjoggie is gedwing om na die vulstasie se winkel te gaan. In die winkel het die rowers nog ander personeellede saam met hom na ’n ander deel van die gebou geneem waar hulle aangehou is.

“Die rowers het toe die twee kitsbanke in die winkelkompleks met plofstof opgeblaas. Hulle het ook die winkel se kluis met plofstof oopgeskiet. ’n Onbekende bedrag kontant is gebuit. Gelukkig is geen van die personeellede beseer nie,” het hy gesê.

Maponya het voorts gesê hoewel die meeste kitsbanke met tegnologie toegerus is wat sorg dat geldnote outomaties met ’n onuitwisbare ink bevlek word sodra die kitsbank gevanda-
liseer word, kon daar nog nie met sekerheid vasgestel word of hierdie betrokke geld wel met ink bevlek is nie.

“Die rowers het sekere dele van die veiligheidskamerastelsel wat die voorval afgeneem het, gesteel. Die polisie volg alle leidrade op, maar teen druktyd was al die skurke nog op vrye voet.”

Mense wat inligting het, kan vir lt.kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, bel by tel. (014) 736 9733.

Inwoners word gevra om daarop te let dat die polisiestasie in Bela-Bela se kontakbesonderhede verander het.

Die polisiestasie se kliëntedienssentrum se nuwe nommer is tel. (014) 736-9761 of tel. 079 889 5614.

Related Articles

Back to top button