CrimeNews

Rowers blaas geldwa op

’n Groep rowers het op Maandag 4 Julie ’n geldwa op die N1-snelweg buite Bela-Bela met plofstof oopgeskiet.

Dit is die tweede voorval binne sewe dae waar rowers plofstof gebruik om rooftogte uit te voer.

Die eerste voorval het op Donderdag 30 Junie by ’n vulstasie in Radium plaasgevind.

Volgens kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiebevelvoerder, het die jongste rooftog Maandag teen ongeveer 18:15 plaasgevind.

Verkeer is tydelik ontwrig terwyl die owerhede ondersoek op die toneel ingestel het.

Die voorval het in die omgewing van die Caltex Palm Plaza-vulstasie gebeur.

Op die inlasfoto hierbo is die beskadigde kontant wat deur die rowers agtergelaat is. Foto’s: Verskaf

“’n Geldwa van die Fidelity-groep was op pad in die rigting van Polokwane toe die rowers met semi-outomatiese gewere op die bewegende voertuig losgebrand het. Die polisie was baie vinnig op die toneel en het die beskadigde geldwa teen die grensdraad van ’n plaas gevind. Daar was hope geld wat langs die geldwa in die veld gelê het. Van die note is erg beskadig.”

Daar word beweer dat twee Landrovers en ’n wit voertuig (vermoedelik ’n Mercedes Benz) deur die rowers gebruik is, het Phetla gesê.

Die twee veiligheidswagte in die geldwa het probeer om die rowers te ontduik deur oor die snelweg te ry en in die rigting van Pretoria te probeer vlug. Hulle het egter besef die voertuig is te erg beskadig en het van die pad gery en die geldwa verlaat om skuiling in die veld te soek. Die rowers was kort op hul hakke.

Phetla het gesê dat die twee veiligheidswagte kon daarin slaag om enkele skote op die rowers te vuur. Dit is egter nie bekend of iemand getref is nie. Die veiligheidswagte is ongedeerd.

“’n Ooggetuie wat in die omgewing was, het glo ses rowers gesien wat hul voertuie verlaat het en na die geldwa, wat teen die heining was, beweeg het. Die rowers het daarna die geldwa met plofstof oopgeskiet. Derduisende rande is in die proses beskadig.”

Die rowers het vermoedelik met ’n onbekende bedrag kontant in ’n noordelike rigting op die vlug geslaan, het Phetla gesê.

Die ondersoek duur voort.

Related Articles

Back to top button