CrimeNews

Polisie soek leidrade ná moord op Thaba-vrou

Die Thabazimbi-gemeenskap is diep geskok oor die moord op ’n bekende sakevrou, June Pautz (54), wat op Woensdag 22 Junie dood in haar huis gevind is.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo, provinsiale polisiewoordvoerder, is sy met verskeie steekwonde in haar huis op ’n hoewe in die Spitzkop-omgewing gevind.

Mojapelo het gesê sy is vermoedelik tussen 12:00 en 12:54 die middag vermoor.

’n Man is dieselfde dag in hegtenis geneem en aangekla van die moord op Pautz. Die vermeende moordwapen is ook in die omgewing gevind. Volgens die polisie is die man ondervra en het hy verskeie skrape en kneuswonde aan sy liggaam gehad.

Hy is egter die volgende dag vrygelaat en van geen misdaad aangekla nie omdat die polisie nie klinkklare bewyse kon vind dat hy met die moord verbind word nie, het Mojapelo gesê. Sy naam word op regsadvies weerhou.

’n Vriend van Pautz, wat anoniem wou bly, het haar as ’n saggeaarde, spontane en vriendelike persoon beskryf.

“Ons was almal diep geskok toe ons van haar moord gehoor het. Sy en haar man, Wayne, wat ’n lugversorger-onderneming bedryf, het altyd so gelukkig gelyk.”

Gautz het jare lank ’n tweedehande boekwinkel in die ou Absa-sentrum in Van der Bijl-straat in Thabazimbi besit.

“Sy kon baie lekker gesels en het graag haar passie vir boeke en uitgebreide kennis gedeel.”

Die soektog na haar moordenaar(s) duur voort.

Related Articles

Back to top button