CrimeNews

Vermeende dief met slimfoon vasgetrek

Die spreekwoord lui: Slim vang sy baas, maar soms is dit ’n slimfoon wat die vang-werk doen.

Michiel Laubscher, jarelange inwoner van Modimolle, het aan Die Pos vertel dat sy seun Christiaan (11) se slimhorlosie, wat met ’n opsporingstoepassing aan Laubscher se slimfoon gekoppel is, op Woensdag 15 Junie soek geraak het.

“Ek het onraad vermoed toe ek omstreeks 22:00 die Woensdag ’n SMS-kennisgewing van die toepassing gekry het. Toe ons die horlosie in die huis begin soek, kon ons dit nie vind nie,” het Laubscher gesê.

Hy het die volgende oggend die slimfoontoepassing gebruik om die horlosie op te spoor en gesien wie ook al die horlosie het, het besoek afgelê in Phagameng, Klipspringer en Kolobe.
Laubscher vertel dat hy omstreeks 12:00 op Donderdag 16 Junie vir Jumas Sekuriteit genader het vir hulp waarop Fanie Pretorius, speurder en operasionele bestuurder, gereageer het. Die opsporingstoepassing het die spesifieke koördinate gewys van ’n huis in die Phagameng-township waarheen Laubscher en Pretorius gegaan het.

Pretorius het aan Die Pos vertel dat hulle die koördinate te voet gevolg het en omstreeks 14:15 by die betrokke huis opgedaag het. Laubscher het met behulp van die toepassing die horlosie gebel wat hul duidelik binne-in die huis gehoor lui het. Ongelukkig was niemand tuis nie waarop die soektog voortgesit is.

Volgens die bure was die betrokke man by een van die tavernes in die township, maar by nadere ondersoek het ’n informant uitgevind die man is glo by sy ma se huis net ’n paar blokke verder.
Intussen het een van Jumas se reaksie-eenhede by die vermeende dief se huis gewag op sy terugkoms.

Toe Pretorius en Laubscher die vermeende dief opgespoor het, is hulle na sy huis sodat hy die gesteelde horlosie kon uitwys. “Die man het volgehou dat hy nie die horlosie gesteel het nie, maar toe Laubscher weer die horlosie bel en die gelui duidelik binne-in sy huis gehoor kon word, het die man erken hy het dit geneem,” het Pretorius vertel.

Die man, wat intussen as Oupa Johannes Motshopi, geïdentifiseer is, is in hegtenis geneem en na die plaaslike Modimolle-polisiestasie geneem waar Laubscher ’n klag van diefstal gelê het.

Daar is vasgestel dat dieselfde man die voorafgaande twee dae verfwerk in die Laubschers se woning in die Koro Creek-landgoed gedoen het.

Michiel en Nadine Laubscher woon sedert 2005 in Modimolle waar hul twee kinders, Christiaan (11) en Lara (8), gebore is. Michiel is die finansiële direkteur van Nylstene in Modimolle.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, is borgtog van R500 aan Motshopi toegestaan. Hy het op Maandag 20 Junie op ’n klag van diefstal in die plaaslike landdroshof verskyn. Die saak word verder ondersoek.

Indien inwoners beskik oor verdere inligting, kan hulle die polisie bel by tel. (014) 718 1190 of die noodnommer by tel. 0860 010 111.

Related Articles

Back to top button