CrimeNews

Opslagkoeël tref vrou toe rowers sak met geld gryp

’n Grootskeepse soektog is aan die gang na ’n groep rowers wat op Vrydag 10 Junie by die Bosveld Mall in Bela-Bela toegeslaan het.

Volgens lt.kol. Annemarie Smith, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, is ’n vrou by die Absa-bank beroof toe sy op pad was om ’n baie groot bedrag kontant te deponeer.

Volgens die polisie het die vrou teen ongeveer 09:30 by die bank se veiligheidsdeure probeer ingaan, maar is in haar spore gestuit toe ’n vreemde man skielik die sak kontant van haar probeer wegruk het. Haar naam word om veiligheidsredes verswyg.

Die deure is só ontwerp om slegs een persoon op ’n slag toe te laat om kliënte en bankpersoneel se veiligheid te verseker. Die vrou was besig om die deur oop te maak om in te gaan toe sy oorval is.

Twee medepligtiges het haar van die bank se veiligheidsdeure weggetrek tot in die diensgang van die inkopiesentrum en die sak geld probeer afneem.

Veiligheidswagte wat op die toneel was, het die struweling gesien en tot die vrou se hulp gekom. Die verdagtes het ’n vuurwapen uitgepluk en ’n skoot is afgevuur. Die opslagkoeël het die vrou skrams van agter getref, maar sy is nie ernstig beseer nie.

Die rowers het daarna die vrou se selfoon, voertuigsleutels en die kontant gegryp en laat spaander.

’n Derde verdagte het sover vasgestel kon word buite die sentrum vir sy makkers in ’n wit Volkswagen gewag en op die vlug geslaan, het Smith gesê.

Beeldmateriaal van veiligheidskameras in die omgewing toon volgens die polisie dat die rowers ná die rooftog oor die brug gery en op die R101-pad in Radium se rigting gevlug het.

Volgens Smith lyk dit asof die verdagtes die vrou dopgehou het en presies geweet het wat haar bewegings is.

Die polisie ondersoek tans die bank se beeldmateriaal en volg alle leidrade op.

Related Articles

Back to top button