CrimeNews

Rowers gebruik steeds skerp voorwerpe op N1

Rowers wat voorwerpe op die N1-snelweg plaas en op dié manier mense dwing om langs die pad stil te hou, was die afgelope tyd weer baie bedrywig.

’n Waarskuwing is op Dinsdag 7 Junie op verskeie veiligheidsgroepe gestuur dat skerp voorwerpe op Maandag 6 Junie op die snelweg tussen Radium en Bela-Bela geplaas is met die opset om motorryers te beroof.

Volgens inligting het ’n trok die betrokke aand oor skerp voorwerpe gery. Die bestuurder kon gelukkig aanhou ry sonder om beroof te word, maar die voertuig se bande is beskadig.

Rowers het egter op ’n bus vol passasiers toegeslaan nadat dié bus se bande ook beskadig is en die bestuurder noodgedwonge moes stilhou.

Lt. kol. Annemarie Smith, Bela-Bela-speurtakhoof, het aan Die Pos gesê sowat 40 passasiers, wat onderweg was na Zimbabwe, is tydens dié voorval van hul kontant, selfone en persoonlike besittings beroof.

Daar was glo vier rowers betrokke.

Spoorsnyers het die rowers se spore tot in die veld gevolg en op van die gesteelde items afgekom.

Die Pos het die afgelope jaar oor talle soortgelyke voorvalle berig. Een van die koerant se personeellede was self einde verlede jaar in ’n soortgelyke voorval op die N1-snelweg betrokke.

Inwoners word gemaan om uiters versigtig te wees wanneer hulle ná donker op die N1-snelweg ry. Wees op die uitkyk vir voorwerpe in die pad en probeer om stadig aan te hou ry tot waar dit veilig is om stil te hou wanneer ’n voertuig op sinistêre wyse beskadig word. Van die voorwerpe word in swartsakke versteek om minder opvallend te wees.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button