CrimeNews

Diewe stel weer hul visier op bande en motorfietse

Bela-Bela loop weer — ná bykans ’n jaar van stilte — onder diewe deur wat hul visier het op motorbande, hekmotors en motorfietse.

Die Bela-Bela-polisie het bevestig dat drie diefstalle aangemeld is vanaf Woensdag 1 Junie tot Donderdag 2 Junie.

Volgens inligting het verdagtes ’n hekmotor by ’n eiendom in Van der Merwestraat beskadig om toegang tot die perseel te verkry.

Daarna het die diewe al vier bande van die inwoners se bakkie gestroop en ook ’n vierwielmotorfiets wat agter slot en grendel was, gesteel. Die inwoners was in die huis en het nie wakker geword tydens die diefstal nie.

’n Dag later is ’n BMW-padfiets en ’n veldmotorfiets in Soetdoringlaan gesteel.

Die Donderdagaand is daar in dieselfde omgewing ook ’n bergfiets uit ’n erf gesteel.

Volgens van die nwoners en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) lyk dit asof die booswigte inwoners se bewegings dophou. Al die voorvalle het plaasgevind in strate wat snags pikdonker is omdat straatligte nie werk nie.

Gerhard Olivier, GPF-voorsitter, het die voorvalle as georganiseerde misdaad bestempel.

“Ons het, in samewerking met die polisie, weer patrollies in die dorp opgeskerp. Die motorfietse word vermoedelik uit die erwe gestoot en elders opgelaai. Inwoners moet waaksaam wees wanneer hul honde snags aan die blaf gaan. Mense moet seker maak dat hul buiteligte werk en kameras en veiligheidsensors wat beweging optel, moet geaktiveer wees. Samesprekings vind eersdaags plaas om die bestaande kameranetwerk in die dorp uit te brei,” het hy gesê

Olivier raai inwoners aan om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwagte.

Al die sake is by die polisie aangemeld en word ondersoek.

Related Articles

Back to top button