CrimeNews

Moordsaak draai eersdaags in hooggeregshof

Chrisna van der Merwe (43), wat aangekla word van die moord op haar beroepsjagter-man, Botes van der Merwe (48), het op Woensdag 18 Mei in die hooggeregshof in Polokwane verskyn waar regter Ephraim Makgoba, regterpresident van Limpopo, haar as toerekeningsvatbaar verklaar het.

Dit is na aanleiding van haar verweer in die hof dat sy glad nie kan onthou wat tydens die skietvoorval op 11 Desember 2018 in hul huis op die Koro Creek-gholflandgoed in Modimolle gebeur het nie.

Van der Merwe is ná haar eerste hofverskyning in November 2019 in die streekhof in Modimolle op waarskuwing vrygelaat. Die staat het destyds nie borgtog teengestaan nie omdat sy nie as ’n vlugrisiko beskou is nie. Die verhoor sou in Oktober 2020 in die hooggeregshof in Polokwane begin het, maar is weens die Covid-19-pandemie tot Maandag 30 Augustus 2021 uitgestel. Die staat het egter op 30 Augustus aansoek gedoen om Van der Merwe vir sielkundige waarneming by die Thabamoopo-psigiatriese hospitaal, 50 km suid van Polokwane, te laat opneem.

Die finale verslag is nou deur die staat ingedien waarop die regter bepaal het dat sy bevoeg is om verhoor te word. Die saak sal vanaf 24 tot 28 Oktober in die hooggeregshof in Polokwane aangehoor word.

  • Botes van der Merwe was die eienaar van Botes Hunting Safaris wat veral buitelandse jagters ontvang het. Hy is op die betrokke aand drie keer met ’n 9 mm-pistool geskiet. Een van die skote het hom noodlottig in die hart getref. Sy liggaam is in die badkamer van die hoofslaapkamer in die egpaar se huis gevind.

Luidens die klagstaat het Van der Merwe haarself glo in die maag geskiet nadat sy haar man geskiet het.

Sy is daarna vir sowat twee weke in die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion, Gauteng, behandel.

Van der Merwe word ook van diefstal aangekla omdat sy na bewering R141 000 onregmatig uit haar man se bankrekening onttrek het. Sy ontken skuld op albei aanklagte.

Related Articles

Back to top button