CrimeNews

Oppas vir vreemde selfoon-boodskappe

Talle inwoners van die Waterberg het onlangs boodskappe op hul fone of rekenaars met ’n wp.20ru-skakel ontvang, maar dié boodskap het niks met die WP-rugbyspan te doen nie — dis ’n gevaarlike slenter.

Die boodskap lyk soos ’n internetskakel waarop die verbruiker kan kliek en dan na ’n webtuiste geneem word. Die boodskap begin met die letters wp20.ru en eindig met ’n paar syfers wat soms verskil.

Die skakel moet in die meeste gevalle direk in ’n internet-soekenjin ingesleutel word.

Alex Poalses van Comtec-rekenaardienste, asook Adolph Vosloo van Belanet-internetdienste in Bela-Bela, het albei aan Die Pos gesê mense moet hierdie boodskappe dadelik verwyder.

Die gevaar is dat die programmeerders van hierdie virus daarop uit is om mense se persoonlike inligting te bekom.

“Dit is amper soos ’n trojan-virusprogram wat voorgee dat dit namens jou die boodskap (wp20.ru) na almal in jou kontaklys stuur,” het Vosloo gesê.

Poalses sê dit is ’n soort rekenaarvirus wat mense se soekenjins “kaap” sodat daar toegang tot jou persoonlike inligting bekom kan word.

Dit gebeur ook dat die slagoffers outomaties na ander webtuistes geneem word en nie na die webtuiste waarvoor hulle normaalweg soek nie, het hy gesê.

“Mense moenie op enige skakels kliek wat hulle rondstuur na ander webtuistes toe nie.

Vosloo het gesê al hoe meer internetgebruikers word deur hierdie soort slenters gevang.

“Mense moet bewus wees van die gevare daarvan om onbetroubare e-posse van onbevestigde bronne of internetskakels oop te maak.”

Poalses het gesê die een manier om die gevaar van die trojan-virus uit te skakel is om die betrokke soekenjin — op slimfone of rekenaars — na die verstekinstelling (default) oor te skakel.

Indien dit nie werk nie, kan gebruikers die hele stelsel of foon se stellings weer opstel.

“Mense moet besef niks in die lewe is gratis nie. Die skakels waar mense ’n gratis vakansie of kontant kan wen, is nonsens. Die persoon of groep wat die virus ontwerp en uitgestuur het, is slegs op soek na jou persoonlike inligting,” het hy gesê.

Vosloo raai mense aan om die webtuiste www.pcrisk.com/removal-guides/23347-doc-trojandownloader-agent-trojan te besoek vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button