CrimeNews

Renosterkoei buite Bela-Bela gestroop

Wildstropers het verlede week op ’n bekende natuurreservaat buite Bela-Bela toegeslaan en ’n witrenosterkoei en kalf geskiet.

Die naam van die plaas word om veiligheidsredes weerhou. Volgens lt. kol. Annemarie Smith, speurtakhoof van die Bela-Bela-polisie, het die voorval tussen Maandag 25 April en Dinsdag 26 April plaasgevind.

Luidens die klagstaat is alle moontlike veiligheidsmaatreëls getref om die renosters veilig te hou. Die stropers het ná donker toegang tot die reservaat verkry.

Smith het gesê die koei is in die kop geskiet en die kalf is in die maag gewond. Die koei se horing is afgesaag waarna die stropers op vlug geslaan het.

Die kalf het die aanval wonderbaarlik oorleef en ontvang tans mediese sorg.

Volgens ’n plaasbestuurder, wat anoniem wou bly, het die laaste renostervoorval in 2015 op die reservaat plaasgevind. Die bestuurder het die jongste voorval as tragies beskryf.

“Die koste om na renosters om te sien het oor die laaste paar jare skerp toegeneem. Om hulle veeartsenykundige-, voer- en veiligheidkoste te dra is nie maklik nie,” het die bestuurder gesê.

’n Plaaslike renosteraktivis, Hino van Graan, het in reaksie gesê meer mense moet betrokke raak om die voortbestaan van die renosterspesie te verseker. Hy het verder gesê bykomende hulp is nodig vir die bewaring van fauna en flora. Hy is van mening dat die eko-toerismebedryf beter ondersteun moet word aangesien hulle hul toespits op die bewaring van ons natuurerfenis.

“Ek is regtig bly dat die kalf die aanval oorleef het, maar ek is ongelooflik kwaad dat die koei op hierdie wrede manier gesterf het.”

Die voorval word deur die polisie se veediefstal- en bedreigde spesies-eenheid in Polokwane ondersoek.

Geen verdagtes is teen druktyd in hegtenis geneem nie.

Die plaasbestuurder rig ’n versoek aan die publiek om die webtuiste www.foodforrhinos.org te besoek.

Daar sal renosterliefhebbers inligting kan bekom oor hoe om bydraes te maak tot die voortbestaan van die renosterspesie. Die donasieproses is op die webtuiste beskikbaar.

Related Articles

Back to top button