CrimeNews

Alwyn van Zyl se moordenaars lewenslank tronk toe

Die drie mans wat vir Alwyn van Zyl (78) op 20 Maart 2020 op die plaas Badseloop buite Mookgophong vermoor het, is op Maandag 25 April in die hooggeregshof in Polokwane almal lewenslank tronk toe gestuur deur regter Violet Semenya.

Die pragtige plaashuis waar die Van Zyl-egpaar gewoon het en Alwyn op 20 Maart 2020 vermoor is. Hy het in dié huis grootgeword.

Semenya se boodskap was dat plaasmoorde en die wreedheid daarvan nie geduld mag word nie en dat daar ’n boodskap aan die publiek uitgestuur moet word. Haar woorde was: “Eaten today? Thank a farmer.” Sy het ook verlof tot appèl geweier.

“Ons is dankbaar geregtigheid het geskied,” het René Briel, dogter van Van Zyl gesê.

Die verhoor het op Maandag 11 April begin en moes weens die Paasnaweek uitgestel word. Die vonnisoplegging moes op Vrydag 22 April weer uitgestel word aangesien een van die beskuldigdes siek was.

Die drie, Ugenuis Saga (30), Loyd Madumba (28) en Tatenda Ngwenya (32), al drie Zimbabwiese-burgers is, is onwettig in die land en was sedert Maart 2020 in aanhouding. Saga en Madumba is lewenslank gevonnis vir moord, roof en aanranding en Mangwenya lewenslank vir moord, roof, aanranding en tien jaar vir die onwettige besit van ’n vuurwapen en nog vyf jaar vir die besit van onwettige ammunisie.

Die beskuldigdes het die eerste keer op 23 Maart 2020 in die hof verskyn en daarna nog ses keer omdat die forensiese uitslae nie beskikbaar was nie, maar die staat het genoegsame bewyse gehad om hulle aan te kla van die moord en aanranding op Alwyn en sy vrou, René van Zyl (76). Hulle het in aanhouding gebly totdat die verhoor begin het.

Alwyn is tydens die aanval verwurg en René het ligte beserings opgedoen. Vier verdagtes het net voor 24:00 die nag van Donderdag 19 Maart 2020 toegang tot hulle huis verkry en die egpaar beroof en Alwyn daarna vermoor. Die vierde verdagte is nog nie aangekeer nie.

Die familie bedank almal wat ’n bydrae gelewer het om geregtigheid te laat geskied. AO Ross Rossouw, een van die ondersoekbeamptes in die saak, het gesê hy is baie dankbaar oor die uitspraak.

Related Articles

Back to top button