CrimeNews

Gesteelde honde betyds opgespoor

Daar word byna daagliks honde uit hul eienaars se erwe in die Waterberg-omgewing gesteel.

Dit wil voorkom asof veral jonger honde geteiken word omdat die meeste mense glo eerder babahondjies as ouer honde as troeteldiere koop.

Die Nylstroom Dierekliniek in Modimolle het op Saterdag 23 April ’n jong seun gehelp om weer sy geliefde Jack Russelhonde, Max en Rookie, op te spoor nadat die twee vroeër by hul huis in die dorp gesteel is.

Shane Msaya, ’n jong seun van Modimolle, het met trane in sy oë kom navraag doen by die dierekliniek in die dorp waar albei honde in Desember 2021 deur middel van ’n noodkeisersnit gebore is. Ongelukkig het niemand op daardie stadium die honde gewaar nie.

Volgens dr. Stephen Gerber, die veearts aan diens, het hul kort nadat Shane en sy ouma daar weg is, ’n oproep ontvang dat ’n verdagte man in die omgewing van Maroela Kafee opgemerk is waar hy probeer om twee Jack Russelhonde te verkoop.

Gerber vertel: “Ons het dadelik twee en twee bymekaar gesit en vermoed dit kan Max en Rookie wees. Hy het dadelik na Shane se ouerhuis gegaan om hom en sy ouma met sy motor op te laai sodat hulle die honde kon uitken.

By hul aankoms het Shane dadelik sy honde herken en is die vermeende booswig met behulp van Juma-sekuriteit vasgetrek en aan die plaaslike polisie oorgelewer.

Gerber bedank die gemeenskap vir hul oplettendheid en vinnige optrede.

“Ons is saam met Shane bly dat Max en Rookie weer veilig tuis is,” het hy gesê.

  • Die Pos het ’n jaar gelede berig oor die twee honde se pa, Corona, wat op die Alma-pad weggeraak het en agt dae later sy pad terug huis toe gevind het. Dit wil voorkom asof daar ’n spesiale bewaarengel oor hiérdie geslag honde waak.Inwoners word versoek om soortgelyke gevalle dadelik by hul naaste dierekliniek of by die Modimolle Animal Welfare Centre (MAWEC) aan te meld.

    Bel gerus vir Cheryl Oosthuysen van MAWEC by tel. 084 506 8504 of die Nylstroom Dierekliniek by tel. (014) 717 5996 of die Kranskop Dierekliniek by tel. (014) 718 4083.

Related Articles

Back to top button