CrimeNews

Buitelander skuldig aan moord

Agt jaar ná die wrede moord op Christine Robinson is haar moordenaar uiteindelik agter tralies.

Andrea Imbayarwo (30) is op Dinsdag 19 April in die hooggeregshof in Polokwane skuldig bevind op aanklagte van moord en verkragting op die 59-jarige oudonderwyser uit Brittanje.

Robinson is volgens getuienis voor die hof in Julie 2014 deur Imbayarwo aangeval, verkrag en vermoor by die Rra-Ditau-wildsreservaat buite Northam waar hy as tuinier onder die naam Andrew Ndlovu gewerk het.

Robinson het dié reservaat alleen bestuur ná haar man se dood. Imbayarwo is deur die polisie in Brixton, Johannesburg, aangekeer nadat ’n familielid van Robinson hom op sosiale media opgespoor en die inligting aan die polisie gegee het.

Andrea Imbayarwo is skuldig bevind op aanklagte van moord en verkragting. Hy word op Donderdag 21 April in die hooggeregshof in Polokwane gevonnis. Foto: Verskaf

Ndlovu het tydens die hofsaak beweer dat hy en die slagoffer in ’n romantiese verhouding was.

Hy het skuld op albei aanklagte ontken.

Imbayarwo het volgens berigte ná die voorval na Zimbabwe (sy tuisland) gevlug. Hy is uiteindelik op 30 Julie 2020 in hegtenis geneem toe hy na Suid-Afrika teruggekeer het.

Hy word op Donderdag 21 April gevonnis.

Related Articles

Back to top button