CrimeNews

Vermeende bedrieërs misbruik Bela-Bela-balju vir bedrog

’n Man van Parys in die Vrystaat is vermoedelik die slagoffer van boewe wat hom oortuig het om ’n voertuig op ’n veiling, wat glo in Bela-Bela sou plaasvind, te koop.

Die vermeende bedrieërs het glo misbruik gemaak van die naam van die Bela-Bela-balju se kantoor en aan Piet van Rensburg voorgegee dat hulle ’n Toyota 2002-modelbakkie teen R20 000 sou opveil.

’n Ontstelde Van Rensburg het die afgelope week aan Die Pos gesê:

“Dit was die ongelooflike winskoop wat my oog gevang het toe ek die advertensie gesien het. Ek was heeltyd in gesprek met ’n vroulike werknemer om die bakkie by my uit te kry. Daar is van my verwag om R10 000 oor te betaal en dan die res sodra ek die voertuig ontvang en tevrede was daarmee. Maar tot my spyt was dit ’n slenter en ek het nooit die bakkie gesien nie.”

Van Rensburg het gesê hy het die advertensie op Facebook gesien en dit het vir hom baie geloofwaardig gelyk.

Hy het die deposito vir die sogenaamde bakkie op Vrydag 18 Maart in ’n bankrekening betaal.

“Hulle het daarna keer op keer vir my bykomende geld gevra en ek het dit aan hulle oorbetaal. Ek het steeds nie die bakkie onder oë gehad nie. Ek het ’n saak by die Bela-Bela-polisie geopen en hoop om ten minste my geld terug te kry.”

Volgens die dokumente wat Van Rensburg aan Die Pos verskaf het, sou die “veiling” onder die naam “Sheriff Auctioneers” gehou word.

Die telefoonnommers wat op die rekening aangedui word as dié van die balju se kantoor in Bela-Bela, is egter nie korrek nie.

Volgens inligting van die balju-kantoor in Bela-Bela beskik hulle tans oor geen webtuiste waar eiendom opgeveil word nie. ’n Woordvoerder het gesê wettige veilings sal in die koerant geadverteer word of per uitnodiging opgeveil word.

Sy het gewaarsku dat voornemende kopers glad nie eiendomme of voertuie moet koop indien hulle nie hul huiswerk deeglik gedoen en die persele of items besigtig het nie.

Mense wat wil uitvind oor wettige of verdagte veilings in die Bela-Bela-gebied kan die balju se kantoor kontak by tel. (014) 736 3061 of ’n e-pos stuur na sheriffbelabela@gmail.com(.)

Related Articles

Back to top button