CrimeNews

Van Tonder vrygespreek van moord

Die hooggeregshof in Polokwane het op Dinsdag 22 Maart vir Herman van Tonder van Bela-Bela vrygespreek op die aanklag van moord op sy vrou, Elrina.

Van Tonder is die eienaar van die luukse Mbizi-wildreservaat buite Bela-Bela.

Die hofsaak het vyf jaar gesloer nadat hy in 2017 aangekla is van moord op Elrina. Hy was tot in Maart vanjaar uit op verlengde borgtog en het deurtentyd voet by stuk gehou dat hy onskuldig is en dat Elrina aan natuurlike oorsake oorlede is.

Elrina is in November 2014 oorlede nadat sy by die St. Vincent’s-hospitaal (tans bekend as die Phodi Clinic) in Bela-Bela met beserings opgeneem is. Sy is in die hospitaal oorlede.

Die staat het beweer dat sy verwurg is. Verskeie staatsgetuies het die afgelope jaar in dié opspraakwekkende saak getuig. Die saak is verskeie kere uitgestel vir verdere ondersoek.

Die hof het egter die afgelope week bevind dat die staat nie genoegsame bewyse kon lewer dat Van Tonder aan moord skuldig is nie.

Van Tonder het by navraag aan Die Pos gesê hy is verlig oor die uitspraak en is stelselmatig besig om na ’n normale lewe terug te keer.

Hy het egter gesê hy is steeds ongelukkig oor die feit dat talle mense hom op sosiale media as ’n moordenaar uitgekryt het terwyl hy deurentyd volgehou het dat hy onskuldig is en die hof dit ook nou bewys het.

Related Articles

Back to top button