CrimeNews

Plaasaanvallers uiteindelik gevonnis

Die wiel van geregtigheid draai stadig, maar seker.

Twee aanvallers is op Dinsdag 15 Maart in die Modimolle-streekhof gevonnis bykans vier jaar ná die aanval op die afgetrede veeartsegpaar, drs. Hercu en Lesley van Niekerk.

John Dewa en Dumisani Manziyo, albei Zimbabwiese-burgers, is effektief tot 20 jaar tronkstraf elk gevonnis.

Op die eerste aanklag van gewapende huisroof is hulle tot 15 jaar tronkstraf gevonnis. Vir die twee aanklagte van poging tot moord is hulle vir ’n verdere vyf jaar tronk toe gestuur. Die vonnis word gelyktydig uitgedien.

’n Geskokte dr. Hercu van Niekerk op die toneel waar sy vrou, Lesley, deur plaasaanvallers geskiet is. Sy is in ’n kritieke toestand per helikoper na ’n hospitaal in Pretoria vervoer, maar het die aanval oorleef. Twee van die aanvallers is vandeesweek gevonnis. Die ander twee is nooit aangekeer nie. Foto: Herman Steyn

Die Van Niekerks is op Vrydagoggend 15 Junie 2018 deur vier gewapende mans op hul plaas in die Boekenhout-omgewing tussen Modimolle en Mookgophong aangeval.

Die egpaar en een van hul werkers was besig om voer vir diere uit te sit toe die mans toegeslaan het. Een van die aanvallers het op die voertuig losgebrand.

Hercu (toe 75) is nie getref nie, maar Lesley (toe 63), wat aan die passasierskant gesit het, is twee keer in die maag gewond.

Die aanvallers het Hercu aangerand en gedwing om die kluis oop te sluit waarna hulle met die buit van kontant en wapens met die egpaar se Toyota Hilux-bakkie op die vlug geslaan het.

Bure was spoedig op die toneel nadat Hercu alarm gemaak het.

Sy vrou is in ’n kritieke toestand per helikopter na ’n hospitaal in Pretoria geneem. Sy is drie weke later ontslaan en het by hul dogter, Leatitia de Bruin, in die stad aangesterk terwyl Hercu weer na die plaas teruggekeer het.

Die aanval het destyds ’n reusesoektog tot gevolg gehad met talle boere en veiligheidsgroepe wat in samewerking met die polisie per helikopter, motor en te voet oor ’n wye gebied na die voortvlugtendes gesoek het.

Volgens ’n polisiewoordvoerder is twee van die verdagtes binne weke ná die aanval aangekeer, maar weer vrygelaat omdat daar nie voldoende bewyse teen hulle was nie.

Volgens ’n woordvoerder van die Heritage Protection Group (HPG) is die twee verdagtes weer in Januarie 2020 aangekeer nadat hulle met behulp van DNS-bewyse met die misdaadtoneel verbind is. Hulle was sedertdien in aanhouding totdat die saak vandeesweek afgehandel is.

Die Van Niekerk-egpaar het aan Die Pos gesê hulle is diep dankbaar vir die skuldigbevinding en vonnis.

Hulle wil graag die plaaslike polisie, AO. Ross Rossouw (ondersoekbeampte), asook lede van HPG bedank vir hul volgehoue harde werk. Gawie Lourens (HPG) se bydrae met die insameling van getuienis en die deeglike werk van die aanklaerskantoor het die deurslag gegee.

Plaaslike veiligheidsorganisasies, onder leiding van wyle Barend Pienaar, het op die dag van die aanval die Van Niekerks te hulp gesnel.

“Ons sal nooit vergeet hoe die gemeenskap ons destyds onderskraag het nie,” het hulle gesê.

Related Articles

Back to top button