CrimeNews

Inwoners ly skade ná vlaag kabeldiefstalle

Inwoners van Thabazimbi se gemoedere loop hoog ná die onlangse probleme wat hulle met water- en elektrisiteitsvoorsiening in en om die dorp ondervind het.

Verskeie inwoners het die afgelope twee weke hul misnoeë teenoor die Thabazimbi-munisipaliteit uitgespreek oor die onderbreking van krag- en watervoorsiening in die dorp.

Joshua Motsomane, woordvoerder van die munisipaliteit, het in ’n verklaring bevestig dat die munisipaliteit deeglik bewus is van die herhaaldelike probleme en gesê hulle doen alles in hul vermoë om so gou as moontlik aandag aan dié probleme te skenk.

“Die Thabazimbi-munisipaliteit wil inwoners gerusstel dat ons bewus is van heersende watertoevoerprobleme en onderbrekings wat die afgelope paar dae lae waterdruk veroorsaak het,” het hy verduidelik.

“Gereelde elektrisiteitstoevoerprobleme belemmer die werking van die pompstasies en ons kan nie genoeg water na die reservoirs pomp om na wonings en sakeondernemings te versprei nie,” het hy gesê.

Om die kroon te span is daar verskeie voorvalle van vandalisme en kabeldiefstal ondervind wat dit moeiliker maak vir die munisipaliteit om by te hou met die groot aanvraag na water en elektrisiteit.

Daar was op Donderdag 17 Maart ’n voorval van kabeldiefstal by die Ipelegeng-substasie wat die inwoners van die area vir ’n geruime tyd sonder krag en water gelaat het.

Hoewel die munisipaliteit sê hulle gee voortdurend aandag aan dié en ander probleme, wil woedende inwoners nou weet of daar ooit ’n einde aan die swak dienslewering sal wees.

Die Pos het kontak gemaak met die verantwoordelike amptenare by die munisipaliteit, maar kon geen kommentaar kry oor wat die huidige oplossing vir die probleme is nie.

Inwoners word aangemoedig om hul plaaslike wykraadslede te kontak vir enige navrae oor hierdie en ander probleme in hul omgewing.

Related Articles

Back to top button