CrimeNews

Gesteelde diere steeds vermis

Thabazimbi Animal Rescue (TAR) is steeds op soek na vyf honde wat na bewering op Sondag 6 Maart uit die TAR-hokke gesteel is.

Tania Stone, ’n TAR-verteenwoordiger, het aan Die Pos gesê sy en haar kollegas is steeds ontsteld oor die diere se verdwyning. Hulle doen oral navraag om die vermiste diere op te spoor.

“Ons is nog baie hartseer en bekommerd oor ons diere,” het Stone verduidelik.

“Ons is steeds gereeld in kontak met die Thabazimbi-polisie en hoop dat ons binnekort ons diere ongedeerd sal opspoor.”

Stone het voorts gesê die veiligheid van die diere in hul sorg is vir hulle baie belangrik en daarom bly hulle hoopvol dat die gemeenskap vir hulle inligting sal verskaf wat kan help in die ondersoek.

Dié honde is van die diere wat op Sondag 6 Maart uit die hokke van Thabazimbi Animal Rescue gesteel is.

“Ons het pamflette laat druk met die hondjies se foto’s op sodat die polisielede op patrollie op die uitkyk kan wees vir die diere. Ons hou moed en hoop dat ons diere gou weer terug sal kom.”

TAR bied ’n beloning van R500 aan enigeen wat meer inligting kan gee rakende die diere se verdwyning. Indien iemand een van die honde gewaar, bel vir Tania Stone by tel. 084 885 6487 of Magda Stewart by tel. 082 385 4064.

Related Articles

Back to top button