CrimeNews

Motief vir moord op vrou nog onbekend

Die personeel en leerders van Hoërskool Nylstroom het die afgelope week met skok verneem van die moord op ’n jong onderwyshulp, Kgomotso Maropola (25), beter bekend as Pene.

Sy was voorheen ook ’n leerder by dié skool en het in 2016 gematrikuleer. Maropola se familie het haar op Sondag 6 Maart om 22:15 as vermis aangemeld nadat sy nie huis toe gekom het nie.

Sy is op Saterdag 5 Maart omstreeks 17:30 laas in Maremanestraat in die Phagameng-township in Modimolle opgemerk.

Haar familie het ’n soektog in samewerking met die plaaslike polisie geloods.

Daar is by al haar familie, vriende en kennisse aangeklop in die hoop dat iemand haar dalk gesien het of moontlik weet waarheen sy gegaan het. Talle boodskappe is op sosiale media versprei om die gemeenskap bewus te maak van haar verdwyning. ’n Groot groep mense vanuit die gemeenskap het ook gehelp soek.

Volgens brig. Motlafela Mojapelo se mediaverklaring is die polisie se soektog op Woensdagoggend 9 Maart in alle erns voortgesit met behulp van die honde-eenheid en ’n spesiale ondersoekspan in samewerking met lede van die publiek.

Mojapelo het bevestig dat haar liggaam omstreeks 08:30 die Woensdag in ’n vlak graf naby die treinspoor, in die omgewing van die rioolsuiweringswerke in Phagameng, gevind is.

Die liggaam is dadelik uitgeken as dié van die vermiste Maropola. Sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is kan die oorsaak van haar dood bevestig word.

Die Pos het met Tshabane Theo Maropola, ’n familielid van die oorledene gepraat oor die voorval.

“Ons is nog steeds in skok oor haar dood. Die hartseerste van alles is dat haar tweejarige seuntjie nou sonder sy ma gaan grootword. Ons gaan Kgomotso se borrelende persoonlikheid ontsettend mis.”

Hy het vertel dat sy ’n lewenslustige geaardheid gehad het met baie vriende wat graag oor en weer gekuier het. Sy het ook graag netbal gespeel.

Die familie wil graag sien dat die verdagte(s) so gou moontlik aangekeer word en vra dat enigeen met inligting na vore moet kom.

Volgens Hoërskool Nylstroom het Maropola in November 2021 by die skool aangemeld saam met ’n groep onderwys-hulpstudente wat deur die departement van onderwys aan die skool toegewys is.

Sy het voorheen kursusse in administrasie voltooi en in die skool se kantoor gehelp met die registrasie van leerders.

Die afgelope atletiekseisoen was sy baie betrokke by atletiekoefening en sy was gewild onder die atlete. Leerders het aanklank gevind by haar vriendelike geaardheid.

Die skool het hul innige meegevoel met haar familie en vriende betuig.

Maj. genl. Jan Scheepers, waarnemende kommissaris van polisie in Limpopo, het in ’n mediaverklaring ’n beroep gedoen op lede van die gemeenskap om die polisie by te staan in die ondersoek.

“In ons voortgesette stryd teen die vlaag van geslagsgebaseerde geweld, soos voorvalle van hierdie aard, kan daar slegs deur middel van samewerking verseker word dat die oortreders so spoedig moontlik vasgetrek word. Hoewel die motief vir die moord nog onbekend is, kan geslagsgeweld nie uitgesluit word nie,” het hy gesê.

Enigeen wat oor inligting beskik wat die polisie kan help in hul ondersoek kan die noodnommer 08600 10111 bel of die ondersoekbeampte AO Anita Pretorius by tel. 081 376 1899 of lt. kol. Henk Nienaber by tel. 082 565 8606.

  • In ’n aparte voorval van geslagsgebaseerde geweld is Edward Masenge op Dinsdag 1 Maart in die Modimolle streekhof gevonnis tot 20 jaar tronkstraf waarvan vyf jaar opgeskort is vir die moord op sy vriendin.

    Volgens sers. Dimakatso Mashamaite, ondersoekbeampte, is Masenge in Junie 2020 in hegtenis geneem. Hy is na bewering na sy vriendin se woning in Phomolong, ’n area in die Phagameng-township in Modimolle, om haar te konfronteer oor gerugte van ’n skelm verhouding.

    Tydens die woordewisseling het Masenge haar met ’n mes aangeval. Sy is op die toneel dood weens veelvuldige steekwonde.

    Masenge is intussen oorgeplaas na die Kgosi Mampuru korrektiewesentrum in Pretoria waar hy sy vonnis sal uitdien.

Related Articles

Back to top button