CrimeNews

Diefstal en brand by bekende lodge

Die bekende Metsi-Metsi Country House & Function Venue net buite Modimolle se kantoorgeboue is deur ’n brand in puin gelê.

Die brand, wat in die vroeë oggendure op Donderdag 3 Maart ontstaan het, volg op ’n diefstal wat net die dag vantevore plaasgevind het.

Die Pos het met Linda Loubscher, jarelange mede-eienaar, gepraat oor die skokervaring.

“Dit voel werklik soos ’n nagmerrie; net ’n nare droom waarvan ek gaan wakker word en sien dat alles nog soos voorheen is,” het sy gesê.

Loubscher het vertel dat daar die nag van Dinsdag 1 Maart of in die vroeë oggendure van Woensdag 2 Maart by die kluis in die kantoor ingebreek en geld gesteel is.

“Ons het die diefstal die Woensdag ontdek en dadelik die polisie ontbied, want net enkele mense weet waar ons die kluis se sleutel bêre. Daar was die afgelope tyd ’n aantal insidente waar kruideniersware gesteel is, maar daar is nog nooit by die kluis ingebreek nie. Ons het al die werkers bymekaar geroep en hulle van die inbraak vertel,” het sy gesê.

Niemand is in die kantoor toegelaat nie omdat die polisie nog besig was met die ondersoek en later vingerafdrukke sou kom neem. Die volgende oggend douvoordag het ’n brand in die kantoor (waar die kluis geleë is) ontstaan.

Loubscher vertel dat sy omstreeks 05:45 opgestaan het om haar honde uit te laat en toe die rook opgemerk het.

By nadere ondersoek het sy digte, swart rookbolle by die kantoor sien uitkom. Haar man, dr. Jannie Loubscher, jarelange tandarts op Modimolle, het die brand met brandblussers en tuinslange probeer blus, maar dit was te laat om enigiets in die gebou te red.

Die vlamme het selfs die rekenaardrukker laat smelt.

Die plaaslike polisie en lede van die Heritage Protection Group (HPG) van Modimolle en Alma was omstreeks 07:30 op die toneel om die saak te ondersoek.

Volgens die polisiewoordvoerder is daar vasgestel dat die brand opsetlik gestig is, want ’n petrolkan met roet en spatsels bloed is naby die kantoor gevind.

Speurders, onder leiding van AO Ross Rossouw, het die spoor gevolg tot by die woning van twee susters, wat albei by die lodge werk, in die Phagameng-township in Modimolle.

’n Sak met klere is volgens die polisie in die woning gevind en die polisie kon vasstel dat die skoene in die sak ooreenstem met die voetspore wat op die toneel gevind is. Daar was ook bloed op die klere.

Volgens die polisieverteenwoordiger het die verdagte haarself vermoedelik gesny toe sy die venster van die kantoor gebreek het om die petrol in die vertrek te gooi voordat dit aan die brand gesteek is.

Letta Ramoroalo (33) is dieselfde dag in hegtenis geneem en aangekla van brandstigting. Sy het op Vrydag 4 Maart in die landdroshof in Modimolle verskyn en is op borgtog van R1 000 vrygelaat. Die saak is uitgestel tot Donderdag 28 April.

Die ondersoek duur voort. Loubscher het aan Die Pos vertel dat hulle bykans R250 000 se skade gely het.

Hulle is ook baie hartseer oor al die vernietigde dokumentasie, lisensies, finansiële state en ander rekords wat onvervangbaar is.

Die Loubschers wil graag lede van die plaaslike polisie en HPG bedank vir hul vernuftige speurwerk en ondersteuning — AO Ross Rossouw, AO Gawie Greeff, AO PI van der Merwe, AO Kallie Calitz, kapt.

Piet Schoeman, konst. Piet Sekele, sers. Jan Kobela, Arno du Toit (HPG), Gerhard Herbst (HPG), Piet Claassens (HPG) en Koos Pretorius (HPG).

Related Articles

Back to top button