CrimeNews

Diere uit hul hokke gesteel

Die Thabazimbi Animal Rescue (TAR) is diep geskok nadat daar vermoedelik op Sondag 6 Maart by TAR se hokke ingebreek en vyf honde gesteel is.

Tania Stone, ’n TAR-verteenwoordiger, het aan Die Pos gesê sy en die ander TAR-werknemers is baie hartseer oor die voorval.

“Ons is siek van bekommernis oor ons hondekinders se verdwyning,” het sy gesê. “Ons vermoed dat iemand in die aand, toe dit stil was, oor ons heining geklim en die honde gesteel het.”

Stone het gesê hulle kan nie verstaan waarom dié spesifieke honde gesteel is nie.

“Op ons terrein is ons diere veilig en versorg, maar ons weet nie wat buite ons terrein met hulle gebeur nie.”

Magda Stewart (ook van TAR) het op haar beurt verduidelik dat die organisasie deur die jare op verskeie oproepe moes reageer waar inwoners hul troeteldiere as vermis of gesteel aanmeld, maar sy sê hulle het nooit gedink dit sal ook met hulle gebeur nie.

Dié hok was verlede week nog die huis van ’n vrolike TAR-hondjie en vandag staan dit dolleeg. Magda Stewart sê sy probeer positief bly en glo hulle sal vinnig weer hul gesteelde diere terug hê.

“Ons diere is ons kinders. Al is hulle nie permanent hier nie, bly hulle deel van ons,” het sy ontsteld verduidelik. “Ons bid daagliks dat ons hokke leeg sal raak, maar beslis nie op hierdie manier nie. Ons moes al verskeie kere in die verlede troeteldiere opspoor wat deur ander mense gesteel is en soms het die honde se gesondheid ontsettend daaronder gelei. Diere, en veral honde, wat gesteel word, word dikwels opgelei om onwettig mee te jag of hulle word gebruik in onwettige hondegevegte.”

Volgens die nasionale raad van die Suid-Afrikaanse dierebeskermingsvereniging (NSPCA) dui die jongste syfers daarop dat hierdie soort wandade en die gepaardgaande geweld van onwettige dieregevegte landwyd toeneem.

Wendy Wilson, senior ondersoekbeampte en bestuurder van die NSPCA se spesiale ondersoekeenheid, het vroeër vanjaar in ’n nasionale mediaverklaring haar kommer uitgespreek oor die toename van hierdie soort voorvalle.

“Hondegevegte is beslis ’n onderwerp wat mense warm onder die kraag behoort te laat,” het sy verduidelik.

“Buiten vir die ongelooflike lyding wat diere moet deurstaan het die misdade ook ’n groot impak op gemeenskappe, veral die gesinne wie se honde gesteel word,” het sy voorts gesê.

“Die getal onwettige hondegevegte en die wandade wat daarmee verband hou, het teen ’n skokkende trant toegeneem en daarom reik die NSPCA uit na gemeenskappe om meer betrokke te raak en dié probleem hok te slaan.”

’n Verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Thabazimbi, het aan Die Pos verduidelik hoewel daar in die verlede gerugte was van onwettige dierehandel en veral dieregevegte is daar tot op hede nog nie sulke gevalle aangemeld nie.

TAR het bevestig dat hulle reeds die saak by die polisie aangemeld het en die ondersoek duur voort.

TAR wil die gemeenskap aanmoedig om asseblief na vore te kom indien iemand enige inligting het wat met die voorval verband hou.

Bel gerus vir Tania Stone by tel. 084 885 6487 of Magda Stewart by tel. 082 385 4064).

Related Articles

Back to top button