CrimeNews

Vermeende verkragter vasgetrek

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Thabazimbi ondersoek ’n saak van verkragting ná die inhegtenisneming van ’n vermeende verkragter op Maandag 7 Februarie.

Die 31-jarige man word daarvan aangekla dat hy ’n vrou (32) in Regorogile op Maandag 7 Februarie met ’n vuurwapen gedreig en verkrag het.

Konst. Titus Khumalo, polisiewoordvoerder, het aan Die Pos gesê die beskuldigde het reeds in die hof verskyn om ’n borgaansoek te bring, maar die saak is uitgestel vir verdere ondersoek.

Die beskuldigde bly in aanhouding en die ondersoek duur voort. Lede van die Economic Freedom Fighters (EFF) het op Donderdag 17 Februarie tydens die beskuldigde se eerste verskyning voor die hof betoog om hul misnoeë met die styging in voorvalle van geslagsgeweld uit te spreek.

Poppy Mailola,’n verteenwoordiger van die EFF wat die betoging gelei het, het verduidelik dat sy en die party baie sterk voel oor hul stryd teen geslagsgebaseerde geweld en daarom het hulle besluit om hierdie, en ander soortgelyke hofsake, by te woon.

“Ons wil die waarheid uitvind,” het sy gesê. “Mense in Thabazimbi en regoor die land is moeg vir die sinnelose geweld teen vroue en kinders en daarom is dit vir ons belangrik om ons stem by hierdie hofsake te laat hoor en saam te staan teen geslagsgeweld.”

Dit is die vierde saak van dié aard wat sedert November verlede jaar in die Thabazimbi-landdroshof aangehoor word.

Lede van die gemeenskap het hul sedertdien baie sterk uitgespreek teen dié soort misdade. Verskeie gemeenskapsorganisasies het sedert verlede jaar ook, soos die EFF, voor die hof byeengekom om te wys dat hulle verandering in Thabazimbi wil sien en die geweld teen vroue en kinders wil hokslaan.

Related Articles

Back to top button