CrimeNews

Nuutste misdaadsyfers skets ’n donker prentjie vir Suid-Afrikaners

Die nasionale polisiediens se kwartaallikse misdaadstatistiek wat op Vrydag 18 Februarie deur die minister van polisie, Bheke Cele, bekendgemaak is, dui op die polisiediens wat sy landsburgers gefaal het.

Misdaad wat tussen Oktober en Desember 2021 aangemeld is, word vergelyk met die vorige jaar se ooreenstemmende termyn.

Die doel van die polisie se kwartaallikse verslae is om misdaadtendense in sekere dele van die land te moniteer en pro-aktief daarop te reageer.

Op nasionale vlak het misdaad soos moord, poging tot moord, voertuigkapings, huisroof, bankroof, brandstigting, skade aan eiendom, kommersiële misdaad en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie toegeneem.

Plaaslik lyk die prentjie anders.

In die Waterberg-gebied het die Bela-Bela-polisiestasie die meeste sake van aanranding (47), roof met verswarende omstandighede (25), diefstal (78) en dwelmverwante sake (95) ondersoek.

Daar is teen Desember altesame 28 sake van aanranding, wat gewoonlik uit geskille of huishoudelike geweld gespruit het, in Modimolle aangeteken. In Vaalwater was daar 11 sake, in Thabazimbi 32 en in Mookgophong 42.

Die Thabazimbi-polisiestasie het die grootste styging in aanrandingsake (met die opset om te beseer) ervaar met 37 sake wat aangemeld is.

Modimolle se dwelmverwante sake het afgeneem van 54 na 44 in vergelyking met dieselfde termyn in 2020. Die aantal inbrake in die omgewing het egter skerp gestyg.

In Bela-Bela is daar 91 inbrake in drie maande aangemeld. In Modimolle was daar 52, in Vaalwater 14, in Thabazimbi 32 en in Mookgophong is 23 sake aangemeld.

Die swak ekonomiese klimaat en stygende werkloosheidsyfer word voorgehou as ’n direkte invloed op die toename in misdaadstatistiek.

Die Pos het op Vrydag 18 Februarie ’n stigtingsvergadering in die Bela-Bela-township bygewoon waar ’n geestelike misdaadvoorkomingskomitee vir die Waterberg-streek op die been gebring is. Die doel is om geestelike leiers in hul gemeenskappe betrokke te kry.

Die inwoners se morele waardes moet opgebou word. Hul basiese behoeftes moet ook aangespreek word.

As die maatskaplike omstandighede van die gemeenskap verbeter kan die geestelike leiers ’n beroep doen op inwoners om misdaad te bekamp, is gesê.

Die fokuspunte sluit in jongmense wat skool verlaat, veroordeelde misdadigers wat terugkeer na hul gemeenskappe, werkloses, enkellopende ouers, huishoudings waar minderjariges aan die hoof van die huishouding staan, gebroke gesinne en haweloses.

Die provinsiale en plaaslike polisie wil saam met die geestelike leiers by die veldtog betrokke wees, is op die vergadering gesê.

’n Paneel is reeds in Bela-Bela aangewys. Daar is egter nog baie hulp uit die gemeenskap nodig om die sleutelposisies te vul.

Indien mense van ’n geloofsinstansie by die veldtog betrokke wil raak, kan hulle vir kapl. Peter Letswalo bel by tel. 076 153 3706. Hy is in Modimolle gestasioneer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button