CrimeNews

Betoging teen beweerde sluiting van skool

Leerders van Mokhlakamotala High School, wat tussen Vaalwater en Modimolle op die R33-deurpad geleë is, het vroegoggend op Woensdag 16 Februarie betoog teen die beweerde sluiting van die skool aan die einde van die jaar.

Talle leerders het plakkate vasgehou wat lui: “Justice for Mokhlakamotala” terwyl die swart rook van brandende motorbande die lug gevul het. Die R33-deurpad by die skool se afdraaipad is met houtstompe, rommel, parkbankies en dergelike swaar voorwerpe versper.

Heelwat motorryers moes noodgedwonge omdraai omdat niemand deur die versperrings en groep mense kon ry nie.

Ooggetuies het vertel Matome Mohohoma, die skoolhoof, se viertrekvoertuig is glo met avokadopere, wat langs die pad groei, bestook.

Mohohoma, wat in 2018 as skoolhoof aangestel is, was nie die afgelope week vir kommentaar beskikbaar nie.

Polisiebeamptes van Vaalwater het vroegoggend opgedaag om te verseker dat die betoging nie gewelddadig raak nie. Die eienaar van ’n nabygeleë onderneming het glo die Modimolle-polisiestasie gebel om die betoging stop te sit.

Ooggetuies het aan Die Pos vertel hoe dié betrokke beamptes glo gewapen was met haelgewere, wat gewoonlik vir skarebeheer gebruik word.

Martie Strydom, koshuismatrone, het aan Die Pos gesê die leerders het teen omstreeks 12:00 begin verdaag en in die skoolterrein in beweeg het. Dit is toe dat die Modimolle-beamptes glo op leerders losgebrand het met rubberkoeëls en selfs traangas afgevuur het.

Die Pos het na afloop van die voorval met die voormalige skoolhoof en grondeienaar, Harry Malan (75), oor die protesaksie by die skool gesels.

Malan het verduidelik dat hy nie bewus was van die beplande optog nie en eers die betrokke oggend gesien het dat koshuisleerders nie by die skoolgeboue opdaag nie. Hy vertel hoe die rubberkoeëls by sy kop verbygefluit het terwyl hy tussenbeide probeer tree het om leerders te beskerm.

Malan is in 1992 deur die departement van onderwys as hoof van die skool aangestel. Hy het destyds die skoolgeboue en perseel van die oorspronklike eienaar, ’n ene Val Mertz, gekoop en woon sedertdien op die perseel saam met sy vrou, Rita en hul twee kinders.

Malan was die skoolhoof vir bykans 20 jaar voordat hy aan die einde van 2011 op 65-jarige ouderdom afgetree het. Hy is sedertdien steeds betrokke by die skool en bestuur die twee koshuise wat tans bykans 180 leerders huisves.

Die skool het vanjaar altesame 354 leerders met 11 voltydse onderwysers. Rita was vanaf 1994 tot in 2019 ’n leerkrag by die skool en het Engels aangebied.

Hy vertel dat daar in 1993, met die skool se amptelike opening, net 96 leerders was wat daagliks te voet skool toe gestap het. Later jare het die departement van onderwys skoolbusse voorsien wat leerders vanaf Modimolle, Alma en Vaalwater af daarheen gebring het.

“Hoewel daar destyds heelwat plaasskole was vir gr.1-7-leerders, was Mokhlakamotala die enigste hoërskool in die landelike gebied tussen Modimolle en Vaalwater,” het hy gesê. “Die koshuise bied veilige verblyf in ’n rustige omgewing vir kinders wie se ouers ver weg moet werk.”

Die departement van onderwys het in 2012 drie tegniese sentrums op die perseel gebou sodat die skool tegniese vakke kan aanbied.

Aan die hand van die skool se jaarlikse matriekuitslae, met ’n slaagsyfer wat gewoonlik bo 80% is, is dit duidelik dat die skool gehalte onderrig bied.

Die skool is geregistreer as ’n sogenaamde “no fees-skool” waar ouers kan aansoek doen by die nasionale departement van onderwys om vrygeskeld te word van skoolgeld.

Malan vertel dat hy ’n huurkontrak het met die Limpopo-departement van onderwys wat elke drie jaar hernu word. Dié kontrak verstryk einde Maart vanjaar.

Volgens Malan probeer hy en sy prokureur die afgelope ses maande om met die provinsiale departement te onderhandel rakende die huurkontrak, maar het tot op datum nog geen skriftelike kommunikasie ontvang nie.

Desiree van der Walt, DA-leier in die provinsie en lid van die parlementêre komitee vir basiese onderwys, het aan Die Pos vertel dat sy die vergadering wat op Maandag 21 Februarie om 11:00 by die skool gehou is, bygewoon het.

“My eerste bekommernis is dat die vergadering gedurende skooltyd gehou is wat beteken onderrig is ontwrig omdat leerders nie klasse kon bywoon nie. Heelwat ouers kan ook nie die vergadering tydens werks- ure bywoon nie,” het Van der Walt gesê. “Die departement van onderwys se kringbestuurder in Vaalwater, Kona Sanga, wat die vergadering gelei het, kon nie die nodige dokumentasie voorlê wat aandui dat die huurkontrak met die grondeienaar weldra verstryk nie. Daarmee saam het sy buite orde opgetree deur namens die departement te verklaar dat die skool wel aan die einde van die jaar gesluit gaan word.”

Van der Walt het verduidelik dat daar ’n voorgeskrewe proses is om enige skool te sluit en dat daar geen notules of skriftelike bewyse is dat hierdie proses gevolg is nie.

Sy het ook uitgewys dat die regulasies vir die sluit of saamsmelt van skole net van toepassing is op skole met minder as 150 leerders omdat dit nie koste-doeltreffend is om sulke skole te laat voortgaan nie.

“Aangesien Mokhlakamotala High School 354 leerders het, is daar dus geen gronde om die skool te sluit of te laat saamsmelt met ’n ander skool nie,”

het sy gesê. Van der Walt is van mening dat daar ’n kwaadwillige politieke magspel deur die kringbestuurder, skoolhoof en ’n paar lede van die skool se beheerliggaam gebruik word om die grondeienaar te dwing om die eiendom, sonder vergoeding, aan die departement te skenk.

Die leerders se belange word ook nie in ag geneem nie, meen sy. Van der Walt het onderneem om dringend die saak met die Limpopo LUR van onderwys, Polly Boshielo, te bespreek.

Die volgende vergadering sal op Saterdag 26 Februarie by die skool gehou word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button