CrimeNews

Polisie het hul hande vol met rowers

Daar was redelik min misdaadvoorvalle in Bela-Bela oor Desember, maar nou het die polisie hul hande vol nadat verskeie rooftogte en inbrake in die omgewing aangemeld is.

Die Clothing Junction-klerewinkel in Chris Haniweg het op Sondag 30 Januarie deurgeloop.

Die hoofstraat is in die verlede verskeie kere deur rowers geteiken.

Volgens ’n polisiewoordvoerder het die voorval ongeveer 09:00 die oggend plaasgevind toe ’n man die winkel betree en ’n verkoopsassistent gevra het waar hul aanpaskamers is.

Die assistent het die man gaan wys en is onverwags oorval en oor die kop geslaan. ’n Handwapen is daarna op die winkelassistent gerig. Die verdagte het aangedring op kontant.

Die kontant wat in die geldlaai by die betaalpunt is, is uitgehaal en die rower het ook op die kontant wat in die winkelassistent se beursie was, aangedring.

Die assistent se selfoon is ook volgens die polisie gevat. Die rower het spore gemaak en die polisie is in kennis gestel.

Die polisie het deur verdere ondersoek bepaal dat ’n personeellid moontlik by die voorval betrokke was.

Volgens die woordvoerder het die polisie gesteelde klere, asook die wapen wat vermoedelik tydens die rooftog gebruik is, in sy voertuig gevind. Die wapen was ’n gaspistool.

Twee ander verdagtes is later in hegtenis geneem en verskyn eersdaags saam met die personeellid in die Bela-Bela-landdroshof op aanklag van roof.

  • Die polisie waarsku die publiek oor voorvalle van misdadige aktiwiteite in die Settlers-omgewing.

    Die poskantoor op Settlers is op Donderdag 3 Februarie om 12:00 deur drie gewapende verdagtes beroof.

    Hulle het op meer as R100 000, ’n selfoon en ’n horlosie buit gemaak. Die vermeende rowers het in ’n Ford Ranger gevlug.

  • Daar is ook op Saterdag 29 Januarie by die NTK-depot op Settlers ingebreek en die boewe het gepoog om die kluis oop te sny.

    Hulle was egter onsuksesvol en het met slegs ’n skootrekenaar op die vlug geslaan.

    Niemand is nog in hegtenis geneem in verband met die twee sake nie. Die ondersoeke duur voort.

Related Articles

Back to top button