CrimeNews

Liefde knou nie af en maak nie seer nie

Die veldtog vir die bekamping van geweld teen vroue en kinders word elke jaar in Augstus herdenk, maar as ’n mens na die skokkende stastistieke kyk, behoort dit eintlik elke dag aandag te kry.

Syfers dui daarop dat altesame 15 696 vroue en 4 949 mans van 2020 tot 2021 slagoffers was van misdaad wat uit huishoudelike geweld gespruit het.

Altesame 8 728 vroue en 1 847 mans is aangerand.

’n Inwoner van die Waterberg, wat verkies om anoniem te bly, het met Die Pos gesels oor haar eie hel van huishoudelike geweld.

Sy waarsku vroue dat oordrewe vleitaal ’n vrou laat goed voel en veroorsaak dat hulle hul goeie oordeels- en waarnemingsvermoë opsyskuif, want “agterdog hoort mos nie in ’n verhouding nie”.

Die eerste gevaarteken is afsondering.

“Ons was skaars ’n maand in ’n verhouding toe hy begin verskonings soek om saam met my na geleenthede te gaan of by vriende te kuier. Hy het my geïsoleer van gewone kontak met familie en vriende en ons het al hoe minder saam in die openbaar verskyn.”

Volgens die vrou het die man self baie trauma in sy lewe beleef, maar dit gee hom steeds nie die reg om ’n ander mens fisiek en emosioneel te probeer vernietig nie.

“Ek is opgelei om konfliksituasies te hanteer en kon voorheen op my eie voete staan, maar dit is nie normaal dat jou lewensmaat jaloers raak op jou werkskollegas nie.”

Dié situasie het haar later genoop om haar werkslewe privaat te hou om nie konfrontasie uit te lok nie.

Die man was goed vir haar en daar was altyd goed in hulle huis waarvan sy gehou het, maar die spanning het bly ophou tot die dag dat sy dreigemente in fisieke geweld oorgegaan het.

“Ek moes ’n doktersbesoek reël om behandeling vir my beserings te kry. Dit was daar dat ek finaal besluit het om uit die verhouding te stap.”

Volgens die vrou is sy ’n gelowige mens en het sy baie keer gebid dat die Here die man sal verander.

“Ek voel die kwaadste omdat ek hierdie situasie sélf toegelaat het. Ek voel niks vir hom nie, ten spyte van die feit dat daar liefde tussen ons was.”

“Natuurlik kan ’n mens vergewe, maar as dinge nie verander nie, moet jy spore maak — maak nie saak hoe moeilik dit is nie. Niemand behoort vir ’n tweede keer deur dieselfde persoon mishandel te word nie. Natuurlik voel ek soms skuldig oor wat ek self uit frustrasie gesê of gedoen het.”

Sy wens dat daar vir ander vroue ’n veilige hawe geskep kan word waar hulle bystand kan kry van mense wat werklik omgee.

“Nadat ek aangerand is, het ek dadelik my familie en vriende daarvan in kennis gestel en ek het die nodige ondersteuning gekry. Ek moedig vroue aan om te praat as hulle mishandel word. Die liefde is nie veronderstel om mense fisiek of geestelik te verwond nie.”

Related Articles

Back to top button