CrimeNews

Uitblinker-atleet naby hoërskool van sy motorfiets gery

Die behoefte vir sigbare verkeersbeamptes, spoedhobbels en duidelike verkeerstekens naby skole in Bela-Bela is druk onder bespreking nadat nóg ’n leerder van Hoërskool Warmbad op Vrydagoggend 21 Januarie op die hoek van Quagga- en De Beerstraat in Bela-Bela op sy motorfiets raakgery is.

Die gr. 11-seun is raakgery nadat ’n motorryer na bewering versuim het om by die stopstraat by dié kruising stil te hou.

Die leerder het gelukkig nie ernstige beserings opgedoen nie.

Sy motorfiets is egter beskadig. Volgens die leerder se ouers het hulle op die toneel met die motorryer gepraat en besluit om nie die saak verder te voer nie. Hulle het versoek dat hul kind se identiteit weerhou word.

’n Matriekleerder van die skool is ook einde verlede jaar van haar bromponie afgery op die hoek van Robertson- en Gilfillanstraat.

Sy is ernstig beseer en moes in ’n rolstoel en later met krukke gaan eksamen skryf.

Die seun wat in die jongste voorval beseer is, kon gelukkig nog dieselfde dag per bus saam met Hoërskool Warmbad se atletiekspan ry om aan ’n vriendskaplike byeenkoms by Hoërskool Montana in Pretoria te gaan deelneem.

Hy het ten spyte van sy noue ontkoming en skrape onder die topdrie in sy velditem geeïndig.

“Hy is ’n kind wat oefen terwyl die ander rus. Hy is ’n kranige atleet,” het Van Reenen Cloete, atletiekafrigter, by navraag gesê.

Die leerder se ouers het by navraag aan Die Pos gesê hulle koester geen kwade gevoelens teenoor die motorryer wat hom raakgery het nie.

“My kind se lyf was teen Vrydagaand lekker seer, maar hy bly ’n yster. Ons versoek net dat motorryers die verkeersreëls gehoorsaam en uiters versigtig moet wees waar daar skole is.”

Versoeke word tans aan die Bela-Bela-munisipaliteit gerig om verkeertekens te verbeter en spoedhobbels op te rig.

Tinus Ras van die DA, asook JeeDee Cloete van die Vryheidsfront-Plus, het albei onderneem om die saak in die raad op te volg.

Die voorval is reeds deur lede van die gemeenskapsveiligheidsforum (GPF) onder die aandag van die verkeersdepartement gebring.

’n Dringende versoek is gerig vir verkeersbeamptes om diens by skole in die munisipale gebied te verrig.

Related Articles

Back to top button