CrimeNews

Huisbrake neem toe oor feesseisoen

Booswigte het die afgelope feesseisoen hul kans waargeneem en op verskeie leë huise in Thabazimbi toegeslaan.

Kons. Titus Khumalo, woordvoerder van die Thabazimbi-polisie, het aan Die Pos gesê daar het in dié tydperk meer as 20 huisbrake in en om Thabazimbi plaasgevind. Khumalo het gesê inwoners moet paraat wees en sorg dat hulle die noodnommers van hul plaaslike polisiekantore of die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) byderhand het.

Petrus van Breda, een van die plaaslike GPF-lede, het ook aan Die Pos gesê dit is baie belangrik dat inwoners meer betrokke raak in die gemeenskap en dat hulle die plaaslike GPF in enige noodgeval soos huisbrake, veldbrande of motorongelukke moet kontak.

“Die GPF werk baie nou saam met die Thabazimbi-polisie,” het hy verduidelik.

In baie gevalle meld mense noodgevalle direk by ons aan waarna ons dan optree en ander hulpbronne ontbied.”

Hy het ’n paar wenke verskaf wat inwoners ingedagte kan hou tydens ’n noodsituasie:

  • Veiligheid is die belangrikste. Wanneer daar byvoorbeeld by ’n huis ingebreek word, maak heel eerste seker dat almal veilig is en maak daarna alarm.
  • Sorg dat persele duidelik gemerk is. Van Breda verduidelik dat die GPF en polisie al op verskeie noodroepe moes reageer waar die slagoffers se huise (spesifiek huisnommers) nie ordentlik gemerk is nie. Dit veroorsaak dat kosbare tyd verspeel word.
  • Moet onder geen omstandighede die toneel versteur nie. Of dit ’n voertuigongeluk,’n huisbraak of misdaadtoneel is, die betrokke owerhede moet die toneel deeglik ondersoek. Dit sluit forensiese ontledings van die toneel in en om te peuter of voorwerpe te skuif kan die ondersoek belemmer.
  • Kontak die GPF of die polisie so gou moontlik.
  • Hou noodnommers beskikbaar. Meld enige verdagte optrede of inligting by die polisie of een van die GPF-lede aan.

Die volgende nommers kan op ’n duidelike plek gestoor word:

Thabazimbi-polisie: (014) 777 3504/6 of tel. 079 890 8759 of GPF-lede Petrus van Breda (079 897 5611), Windy van Breda (082 878 4401), Jaco Henning (083 631 6250), Roelf Crause (083 452 8629), Talitha Crause (082 874 7049) en Diane Saunders (082 853 0826).

Related Articles

Back to top button