CrimeNews

Rioolaanleg-ondersoek terugverwys

Daar het nog niks gekom van die kriminele klagte wat teen die Bela-Bela-munisipaliteit gelê is oor die haglike toestand van die dorp se rioolaanleg nie.

’n Formele klag is in September deur die DA by die polisie gelê.

Volgens die DA het die Bela-Bela-munisipaliteit hul plig versuim om die rioolaanleg in stand te hou en het wanbestuur tot die besoedeling van die omgewing gelei.

Rou rioolwater het die afgelope twee jaar al langs die R101 gevloei en volgens sommige inwoners het dit toeriste afgeskrik om Bela-Bela as vakansiebestemmings te oorweeg.

Waterverslae van die wetenskaplike navorsing en nywerheidsraad (WNNR), wat Die Pos onder oë gehad het, het later bevind dat tekens van Covid-19 in die rioolwater gevind is.

Die munisipaliteit het voorheen by navraag aan Die Pos gesê daar is begroot vir die dienste van ’n kontrakteur om die stelsel by die aanleg op te gradeer. Daar is egter nog geen vorderingsverslae aan inwoners gegee nie.

Die Pos het die afgelope week navraag gedoen en is meegedeel dat die ondersoek reeds na die Modimolle-streekhof vir verdere beslissings verwys is.

’n Polisiewoordvoerder het aan Die Pos gesê die saak is deur die streekhof teruggestuur na die Bela-Bela-speurtak om die saak na ’n aangewese ondersoekbeampte wat omgewingsake ondersoek, te verwys.

’n Woordvoerder van die departement van omgewingsake het aan Die Pos gesê hulle is by magte om die klagte verder te ondersoek.

Die departement hou egter vol dat hulle nog nie opdrag ontvang het om die saak te ondersoek nie.

Related Articles

Back to top button