CrimeNews

Vandaliste op heterdaad betrap

Talle sakeondernemings in Modimolle se advertensieborde en geboue is die afgelope twee weke met opset beskadig of met spuitverf ontsier.

Selfs een van die laerskole het deurgeloop onder vandale.

Arnold en Elmarie van Zyl, eienaars van die Century21-eiendomsagentskap wat hul deure in 2020 in Modimolle geopen het, het op Woensdag 10 November ’n beloning uitgereik vir enige inligting wat kan help om die vandale vas te trek.

Die Van Zyls het vertel dat drie van hulle advertensieborde, wat met beton in die grond geplant was, met geweld uitgeruk is terwyl ander advertensieborde met spuitverf bemors is.

“Dit is baie skade, want al hierdie borde moet nou herstel of vervang word.”

Die vandale is op Maandag 22 November geïdentifiseer as twee jong mans, albei 21 jaar oud, wat in Modimolle woon en werk.

Een van die mans werk by ’n motorhandelaar wat bande verkoop en herstel. Die ander persoon doen stukwerk by ’n onderneming wat geute vervang en algemene herstelwerk by huise doen.

Die Van Zyls het aan Die Pos gesê die twee vandale het op Vrydag 26 November ’n skriftelike skulderkentenis onderteken.

Voorwaardes vir gemeenskapsdiens is daaraan gekoppel.

“Hulle het ooreengekom om die Century21-advertensieborde te herstel of te vervang. Daarmee saam gaan hulle die betrokke laerskool se hoofingang ordentlik verf, asook drie ander klaskamers,” het Arnold gesê.

Hy het verduidelik dat hulle ’n kriminele klag van opsetlike saakbeskadiging sal lê indien daar nie aan die voorwaardes voldoen word nie.

“Hopelik het die twee manne hul les geleer en besef hulle dat sulke gedrag nie aanvaarbaar is nie.”

Heelwat ander sakelui, waaronder Wiets Botes, Jaco Behrens en Gerrit Bakker, het intussen na vore gekom en gesê ook hulle het skade aan geboue of advertensieborde ondervind.

Indien inwoners enige vandalisme in hul omgewing opmerk, word hulle versoek om dit by die polisie, munispaliteit en op veiligheidsgroepe aan te meld.

Related Articles

Back to top button