CrimeNews

Swart Vrydag-bedrieërs teiken veral bejaardes

Die Bela-Bela-polisie het inwoners gewaarsku om bedag te wees op booswigte wat tydens die Swart Vrydag-vieringe en die komende feestyd op bejaardes toeslaan.

Volgens ’n plaaslike polisiewoordvoerder het ’n bejaarde vrou op Donderdag 18 November by die Bosveld Mall deurgeloop.

Twee verdagte vroue het die bejaarde by die inkopiesentrum genader en aangebied om aan haar ’n “afslagkaart” vir inkopies te gee. Die vrou is daarna glo na ’n plek naby die taxi-oplaaipunt gelei. Die verdagtes het foto’s van die bejaarde geneem en haar aangeraai om al haar juwele af te haal vir die foto.

Een van die verdagtes het die bejaarde se handsak, met al haar waardevolle items soos juwele, beursie en dokumente in, “vasgehou” terwyl die “formaliteite” afgehandel word, het die polisie gesê.

Die verdagte het daarna met die handsak verdwyn waarna die ander verdagte die bejaarde alleen gelaat het onder die voorwendsel dat sy gou die ander vrou gaan soek. Die bejaarde is in die proses van haar persoonlike items besteel.

’n Tweede sorgwekkende voorval het op Dinsdag 23 November by die Bela Mall afgespeel.

Volgens die polisie is dieselfde modus operandi gebruik, maar hierdie keer het die bedrieërs goedkoop vakansieakkommodasie aan die slagoffer voorgehou.

Die slagoffer is weer gevra om haar waardevolle items af te haal en in haar handsak te plaas waarna die items, asook die verdagtes, verdwyn het. Die polisie vermoed dat die verdagtes by verskeie soortgelyke voorvalle betrokke is en dat hulle goed gekonfyt in hul optrede is.

Albei inkopiesentrums se bestuur het aan Die Pos gesê hulle is bewus van die voorvalle en het veiligheid opgeskerp.

Die publiek word versoek om nie nalatig met persoonlike eiendom te wees nie en om glad nie vreemde mense wat hul nader met buitensporige winskopies, te vertrou nie.

Die publiek word gewaarsku om nie vir slenters of transaksies wat te goed is om waar te wees, te val nie.

Enige verdagte optrede moet sonder versuim by die polisie of die betrokke inkopiesentrumbestuur gerapporteer word.

Related Articles

Back to top button