CrimeNews

Gemeenskap staan op teen geslagsgeweld

Die Vaalwater-gemeenskap het op Woensdag 24 November in groot getalle opgeruk na die polisiestasie op die dorp om antwoorde van kapt. William Mpete, plaaslike stasiebevelvoerder, te eis.

Volgens ontstoke gemeenskapslede word jong meisies meedoënloos geteiken deur seksuele-oortreders sonder voldoende ingryping van die polisie.

Dieselfde dag het daar glo ’n samekoms van verskeie belanghebbendes in Vaalwater plaasgevind om die toenemende voorvalle van geslagsgeweld te bespreek.

Gemeenskapsleiers was teenwoordig saam met amptenare van die departement van onderwys, die Vaalwater-kliniek en ook verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.

Marlene van Staden, raadslid en inwoner van Vaalwater wat die bespreking bygewoon het, het aan Die Pos vertel dat sy geskok was oor die hoeveelheid gevalle waar gesinsgeweld etlike jare al voorkom, maar nooit aangemeld word nie.

“Die polisie se hulp word eers ontbied wanneer dit te laat is en die vrou reeds deur haar man of kêrel vermoor is — gewoonlik ten aanskoue van die kinders,” het sy gesê.

“As ’n vrou en ma wil ek ’n dringende beroep op lede van die gemeenskap doen om sake van gesinsgeweld, kindermishandeling en molestering sonder versuim aan te meld. Die polisie kan slegs optree wanneer die sake aangemeld word.”

“Tweedens wil ek vroue wat in ’n toksiese verhouding is waar hulle gereeld misbruik, mishandel of afgetakel word, aanmoedig om enige mishandeling aan te meld. Moenie te skaam wees om hulp te soek by jou plaaslike kerk of familie en vriende nie,” het sy gesê.

Die 16-dae-aktivisme teen geweld teenoor vroue en kinders strek van 25 November tot 10 Desember.

Die woord geslagsgebasseerde geweld word orals in die media gebruik om hierdie bewusmakingsveldtog te ondersteun.

Lize Fouché, maatskaplike werker van Rata-maatskaplikedienste in Modimolle, het aan Die Pos vertel hoe hulle op praktiese maniere deelneem aan hierdie veldtog.

“Ons sal fluitjies, soos dié wat sportskeidsregters gebruik, aan jong meisies en vroue uitdeel sodat hulle dit in noodsituasies kan gebruik. Die skril geluid van so ’n fluitjie kan ’n vermeende aanvaller op die vlug laat slaan. Dit is bemagtigend vir meisies om gehoor en gesien te word,” het sy gesê.

Daar is ook spesiale gebreide diertjies wat aan kinderslagoffers gegee sal word wanneer hulle in die hof moet getuig.

Fouché vertel dat dit vir jong kinders vreesaanjaend is om in die hof te getuig — veral wanneer ’n ouer of familielid by die mishandeling of molestering betrokke is.

Sy vra dat lede van die gemeenskap dadelik gevalle van kindermishandeling of gesinsgeweld by hul naaste polisiestasie aanmeld.

Eers wanneer ’n dossier by die plaaslike polisiekantoor geopen word, kan die saak na die kinderbeskermingseenheid verwys word, het sy gesê.

Related Articles

Back to top button