CrimeNews

Dit móét stop

Ontstoke lede van die gemeenskap het op Vrydag 19 November in groot getalle na die Thabazimbi-landdroshof opgeruk om hul misnoë teen geweld teenoor vroue en kinders te toon.

Die vreedsame protesoptog het gevolg nadat ’n man daarvan aangekla is dat hy twee vroue (waarvan een hoogswanger was) op Donderdag 7 Oktober in Matikiring, Regorogile, aangeval en verkrag het.

Die 20-jarige beskuldigde bly in polisieaan- houding totdat hy op Vrydag 3 Desember weer moet verskyn.

Die verdagte is borgtog geweier toe hy op Donderdag 21 Oktober voor die Thabazimbi-landdroshof verskyn het.

Die saak is vir ’n derde keer uitgestel omdat die beskuldigde na bewering te siek was om te praat. Die magistraat het tydens die hofsaak gesê die beskuldigde het op ’n vorige geleentheid gevra dat sy borgtogaansoek toegestaan moet word omdat sy vrylating volgens hom geen gevaar vir die gemeenskap inhou nie.

Die hof het hom egter sterk uitgespreek teen die beskuldigde se opmerking. Die beskuldigde se regsverteenwoordiger, Thabo Ledwaba, het aan Die Pos gesê hy verkies om nie op hierdie stadium kommentaar te lewer nie, Voor die hofverrigtinge begin het, het verskeie gemeenskapslede, waaronder politici, lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) en inwoners van Thabazimbi en Regorogile met plakkate voor die hof betoog om druk op die hof te plaas om nie die beskuldigde se aansoek om borgtog toe te staan nie.

“Ons kan nie toelaat dat so ’n man op vrye voet is nie. Die saak moet eers deur die hof aangehoor word,” het een van die betogers gesê.

Die beskuldigde se ma, wat verkies om nie haar naam genoem te hê nie, het by die hof gesê sy is geskok om te dink dat haar seun tot so iets in staat is.

“Ek is baie hartseer,” het sy aan Die Pos gesê. “My seun hou vol hy is onskuldig, maar dit ontstel my om te dink dat hy so iets kon doen.”

Inwoners van Thabazimbi het aan Die Pos gesê hulle verag geweld teenoor vroue en kinders en sal ook die volgende paar weke aktief deelneem aan die 16-dae-aktivisme teen geweld teen vroue en kinders. Annali Connear, vise-president van die SAVF in Limpopo, het gesê hulle organisasie wil graag saam met verskeie ander organisasies ’n daadwerklike verskil in die gemeenskap maak.

“Die SAVF wil vir die gemeenskap wys dat ons betrokke is en hulle belange op die hart dra. Dit is vir ons ’n riem onder die hart om te sien dat organisasies soos die GPF bereid is om op te staan vir ons dorp se vroue en kinders. ’n Mens hoor altyd van verkragtings, maar besef nie dit gebeur ook in ons omgewing en met mense na aan ons nie. Die gemeenskap moet saamstaan, want dit kan met enigiemand in jou vriendekring gebeur.”

Related Articles

Back to top button