CrimeNews

Settlers-egpaar deur rowers aangeval

Jannie en Christine Wolmarans, jarelange inwoners van die Settlers-omgewing, is op Maandag 8 November op hul plaas by Leeuwkuil aangeval.

Jannie besit en bestuur die afgelope 40 jaar die ingenieurswerke op Settlers.

Volgens sers. Frans Maponya, polisie-woordvoerder, het vier rowers die oggend op Jannie toegesak toe hy vroegoggend na sy voëlhokke gegaan het.

Die verdagtes het almal klapmusse gedra. Die voorval het omstreeks 05:45 gebeur.

Twee rowers het vir Jannie aangehou, terwyl die ander twee die huis binnegedring en op ’n slapende Christine afgekom het. Sy kon gelukkig daarin slaag om hul alarmstelsel te aktiveer wat veroorsaak het dat die rowers op die vlug geslaan het.

Die rowers het slegs ’n selfoon en juwele gebuit in hul haas om weg te kom, het Maponya gesê.

Lede van die Settlers-plaaswag was binne minute op die toneel.

Thinus Strydom van die plaaswag het by navraag gesê daar het waarskynlik ’n voertuig vir die verdagtes gewag en hulle is opgelaai. Veiligheidskameras in die omgewing se beeldmateriaal word intussen noukeurig nagegaan.

Jannie is lig beseer toe die rowers hom met ’n handwapen geslaan het. Hy het aan Die Pos gesê die hele aanval het baie vinnig verloop.

“Dit is nou die derde aanval die afgelope paar maande op ons eiendom. Ons is besig om die skok te verwerk, maar besef die tyd het aangebreek dat ons ’n veiliger heenkome soek.”

“Ek wil graag almal wat vinnig gereageer het bedank. Ek is dankbaar dat ons lewens gespaar is.”

Die ondersoek na die verdagtes duur voort. Teen druktyd was daar nog geen inhegtenisnames nie.

Related Articles

Back to top button