CrimeNews

Lodge-eienaar eers weer aanstaande jaar terug in hof

Die hofsaak van Herman van Tonder, eienaar van die Mbizi-wildreservaat en spa buite Bela-Bela, is in die hooggeregshof in Polokwane na Maart aanstaande jaar uitgestel.

Van Tonder is in 2017 op aanklag van moord in hegtenis geneem — drie jaar nadat sy eerste vrou, Elrina, volgens die polisie onder raaiselagtige omstandighede dood is.

Luidens die akte van beskuldiging is Elrina in November 2014 in die St. Vincent’s-hospitaal (nou bekend as die Phodi Clinic) in Bela-Bela dood verklaar.

Daar is aanvanklike beweer dat sy weens “inwendige bloeding” dood is.

Die staat voer aan die egpaar het ’n stormagtige huwelik gehad en dat hulle die aand van 5 November 2014 alleen tuis was. Die volgende oggend het Van Tonder glo met Elrina, wat reeds dood was, by die hospitaal opgedaag.

Hy het gesȇ hy was by toe sy aan natuurlike oorsake gesterf het. Die polisie voer egter aan ’n nadoodse ondersoek het getoon sy het verskeie beserings gehad en is moontlik verwurg.

Van Tonder, wat intussen weer getroud is, is sedertdien op verlengde borgtog vrygelaat.

Die hofsaak is die afgelope twee jaar herhaaldelik uitgestel weens onder meer die Covid-19-inperkings wat hofverrigtinge omver gewerp het.

’n Woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het die afgelope week by navraag aan Die Pos gesê verskeie staatsgetuies was die afgelope week in die getuiebank.

Die saak is uitgestel na 7-11 Maart 2022. Van Tonder sal dan die geleentheid kry om getuies te roep.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button