CrimeNews

Booswig probeer kind uit pa se kar gryp

Die vier Moti-boeties van Polokwane wat onlangs helderoordag op pad skool toe ontvoer is, is op die land se lippe en dié dinge gebeur hier in die Waterberg ook.

Volgens ’n polisiewoordvoerder word al hoe meer sake van ontvoering gemaak en vermiste mense in Limpopo aangemeld.

Die Moti-broers (onderskeidelik 6,11,13 en 15 jaar oud) is op Woensdag 20 Oktober buite Polokwane deur ’n groep van sewe gewapende mans ontvoer.

Die voorval het die oggend voor 07:00 plaasgevind toe die leerders onderweg was vanaf die Nirvana-woongebied na hul skool in die Dalmada-omgewing buite Polokwane.

Die verdagtes het in die rigting van die R81-pad met die leerders gevlug en hulle was vandeesweek teen druktyd steeds soek.

’n Pa van Bela-Bela (wat om veiligheidsredes nie sy naam genoem wil hê nie) het aan Die Pos gesê hy het ’n skrikwekkende ervaring op Donderdag 28 Oktober in die dorp beleef.

Die man het ’n stemboodskap op verskeie plaaslike veiligheidsgroepe geplaas nadat iemand glo sy seun, wat in die laerskool is, uit sy voertuig probeer gryp het.

Die voorval het tussen 13:00 en 15:00 naby die Van der Merwe- en Potgieterstraatkruising in Bela-Bela plaasgevind.

“Ons was in my dubbelkajuitbakkie op pad Modimolle toe en daar was twee voertuie voor my by die stopstraat. My seuntjie, wat agter gesit het, het vreemde geluide gemaak en ek kon voel hoe hy agter my sitplek inskuif. Toe ek omkyk, het ek gesien hoe iemand die agterste passasiersdeur oopmaak en my kind probeer gryp,” het die man vertel.

“Ek het die verdagte met my linkerhand probeer beetkry, maar dit het hom net meer verbete gemaak om in die voertuig te kom. Ek het toe my pistool uitgepluk en op hom gerig wat hom toe laat vlug het.”

Die pa het uit sy voertuig geklim om die verdagte te agtervolg, maar het hom toe bedink en teruggeklim in die voertuig om sy kind gerus te stel.

Hy was ook bang dat daar dalk nog booswigte in die omgewing is wat kan toeslaan as hy die voertuig met sy kind onbewaak laat.

“Die hele insident het ongelooflik vinnig afgespeel, maar ek wou nie ons lewens verder in gevaar stel nie en het nie verder gesoek na die verdagte nie. Ek kan nie eens die verdagte beskryf nie; ek was te geskok om op sy voorkoms te let. Ons gesin is nou eers oor die ergste skok, maar van nou af bly my voertuigdeure gesluit.”

Geen saak is by die polisie aangemeld nie. By navraag het die pa aan Die Pos gesê hy het nie die saak by die polisie aangemeld nie, want het sy vertroue in die polisie verloor.

Die voorval is wel onder die aandag gebring van sekere polisiebeamptes, asook die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF), het die man gesê.

  • Skole en ouers het met skok op die stemboodskap gereageer en planne in werking gestel om die veiligheid van skoolleerders eerste te stel.

Related Articles

Back to top button