CrimeNews

Veediewe swaar gestraf

Veediewe wat beeste in die Roedtan- en Crecy-omgewing gesteel het, is die afgelope week in die hof in Mokopane verhoor en tronk toe gestuur.

Donald Mohlala en Johannes Teffo is albei skuldig bevind aan veediefstal en is elk ses jaar tronkstraf opgelê.

“Ons is baie bly oor die vonnis en hoop dat dit ook ander veediewe sal afskrik. Dit is ’n swaar straf vir eerste oortredings,” het Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus DLU, aan Die Pos gesê.

Veeboere het die afgelope jaar erg onder veediefstal deurgeloop en besluit om as groep op Woensdag 8 September by die hofverrigtinge in Mokopane stille protes aan te teken waar die twee vermeende veediewe vir borgtog wou aansoek doen.

Die vonnisoplegging is nou afgehandel. Booysen het gesê hyself en ander boere in die omgewing het al só baie skade gely weens veediefstal dat hulle besluit het om enige borgtogaansoek van veediewe teen te staan.

Altesame 12 verdagte veediewe is in hegtenis geneem vir die diefstal van 21 beeste gedurende Augustus 2020. Die ander se sake is nog nie afgehandel nie.

Volgens Apie Lewies, ’n boer in die omgewing, het hy en nog ’n ander boer, Gerhardus Brits, 45 beeste in 2020 verloor.

Related Articles

Back to top button