CrimeNews

Rondlopervee steeds ’n kopseer

Rondlopervee in woonbuurte en langs openbare paaie in die Bela-Bela-omgewing is reeds jare lank die oorsaak van vernielde sypaadjies, beskadigde besproeiingstelsels en motorongelukke.

Hoewel dié verskynsel veral in Bela-Bela voorkom, word daar gereeld vee in van die ander Waterberg-dorpe, veral Vaalwater en Modimolle, opgemerk.

Talle inwoners het in ’n onlangse peiling deur Die Pos daarop gedui dat hulle eintlik daarvan hou en dat dit ’n “plattelandse gevoel” aan die dorpe gee.

“Ons woon nie in die stad nie; mense moet stadig ry — hier is diere en kinders in die strate,” het een inwoner gesê.

Nie almal voel egter só nie. Talle inwoners het die afgelope maand aan Die Pos gesê dat die owerhede hoegenaamd nie die erns van die situasie besef nie, aangesien foto’s al geneem is waar troppe rondlopervee rustig op van die polisiestasies self se sypaadjies wei.

Die Pos het al verskeie kere geskryf oor ongelukke wat deur rondloperdiere veroorsaak word. Twee beeste is juis tydens die langnaweek van 24 September op die R101-pad tussen Bela-Bela en Radium doodgery.

Daar was duidelike tekens dat die betrokke voertuig skade opgedoen het, maar geen saak is by die polisie aangemeld nie.

Rondlopervee was (vir die soveelste keer) onder bespreking tydens die maandelikse veiligheidsvergadering wat op Woensdag 13 Oktober by Bela-Bela-polisiestasie gehou is.

Henk van de Graaf, TLU SA se Noordstreekvoorsitter, het gesê gesprekke met TLU se nasionale veediefstaleenheid het intussen plaasgevind, maar geen wettige oplossings is nog gevind nie.

Die proses om vee te skut vereis dat iemand die voorval by die polisie moet aanmeld waarna opdragte gegee moet word aan ’n skut om die vee te verwyder. Die naaste amptelike skut is in Murrayhill en Mokopane.

André Kock en Seun-veilingkrale buite Bela-Bela word ook deur plaaslike owerhede as skut gebruik.

Wetgewing bepaal dat dorpe se onderskeie verkeersafdelings verantwoordelik is vir die skut van rondlopervee, maar Die Pos doen al etlike maande navrae hieroor by die plaaslike munisipaliteit en kon tot dusver niemand vind wat kan verduidelik presies wie vir hierdie toepassing van die wet verantwoordelik is nie.

Phineas Mahlabegwane, ’n beampte wat in dieremishandeling-sake spesialiseer, het tydens die jongste veiligheidsvergadering gesê:

“Die probleem is dat daar geen wetgewing hieroor vir die Bela-Bela-omgewing in die staatskoerant gepubliseer is nie.”

Volgens Mahlabegwane is hy en sy span veral gemoeid daarmee om die mishandeling van donkies hok te slaan.

Hy het gesê ’n veilige hawe vir die donkies is intussen in die Klein Kariba-omgewing gevestig.

“Dit is algemeen bekend dat inwoners van die township nie oor krale beskik waarin hul vee gehou kan word nie. My funksie is tans om die eienaars van die vee op te spoor, te waarsku dat die diere geskut kan word indien hul gevare vir motorryers inhou of privaat eiendom betree of verniel.”

Mahlabegwane het aan Die Pos gesê dit is noodsaaklik dat ander rolspelers meer aktief by die saak betrokke raak.

Sers. Matt Gouws het tydens die vergadering gesê daar is ook onderhandelings aan die gang om ’n stuk omheinde weidingsgrond vir rondlopervee beskikbaar te stel.

“Sake word bemoeilik omdat munisipale- en regeringsamptenare al jare lank nie meer die veiligheidsvergaderings bywoon nie,” het hy gesê.

  • Mahlabegwane het gesê inwoners wat probleme met rondlopervee ondervind kan hom bel by tel. 082 930 2735 of die polisie by tel. (014) 736 9760.

Related Articles

Back to top button