CrimeNews

Oppas vir slenter met vakansieverblyf

Vakansiegangers wat na ’n wegbreek of vakansie smag en reeds aanlyn by ’n bestemming bevestig en betaal het, moet dubbel seker maak dat hulle nie die slagoffers van ’n slenter is nie.

Dit het onlangs aan die lig gekom dat bedrieërs kort voor die skoolvakansie, en in aanloop tot die Desember-vakansie, verblyf aanlyn geadverteer en dan niksvermoedende toeriste ingeloop het.

Soms bestaan die plekke glad nie of dit is bestaande plekke se foto’s wat valslik gebruik word om niksvermoedende mense daarheen te lok. Wanneer gaste dan by hul bestemmings aankom, weet die betrokke plek glad nie dat hulle bespreek of betaal het nie.

Volgens inligting van die Facebook-blad, Scammer alert South Africa, het talle vakansiegangers onlangs gesê hulle het deposito’s aan bedrieërs betaal, net om uit te vind dat die betrokke bestemming nooit bestaan nie en dat hul hul deposito kwyt is.

Inligting oor vermeende bedrieërs, die skuilname wat deur die bedrieërs gebruik word, asook verdagte bankbesonderhede, word onder meer op hierdie FB-groep gedeel. Die polisie ondersoek talle van hierdie sake.

Die Pos het gaan kers opsteek by die Waterberg Toerisme-kantoor hieroor.

“Dit is jammer dat gewetenlose bedrieërs onskuldige vakansiegangers teiken. Dit is mense wat ná ’n baie lang jaar net wil ontspan,” het Judi Groenewald van Waterberg Toerisme by navraag gesê.

Sy het die volgende wenke om mense teen slenters te waarsku:

  • Soms kom ’n besprekingswebwerf as ’n egte webwerf voor, maar dit het al gebeur dat hierdie webwerwe skielik verdwyn sodra ’n betaling gemaak is.
  • Kliënte behoort sulke webwerwe met die bestemming se webwerf te vergelyk indien die bestemming oor ’n webwerf beskik.
  • Veilige webwerwe sluit in SafariNow, Lekkeslaap, Tripadvisor, Booking.com en Airbnb, het Groenewald gesê. Hierdie webtuistes word al geruime tyd as betroubaar erken en kan bevestig of ’n bestemming bestaan of nie. Indien mense steeds twyfel, kan hulle die bestemming direk kontak.
  • Die Hello Peter-webwerf kan resensies oor bestemmings bevat wat die vakansieganger met ’n ingeligte keuse sal laat of die bestemming die moeite werd is of nie. Dit is nodig dat vakansiegangers ander se ervarings in ag neem, het Groenewald gesê.
  • Kyk of die bestemming ’n ster-gradering het wat toegeken is deur die Grading Council of South Africa (TGCSA). Dit sal bevestig of die bestemming ’n regte bestemming is deur dit ook op die webtuiste tourismgrading.co.za te besoek.
  • Bedrieërs stuur soms vir kliënte ’n ligging van die bestemming deur Google Maps wanneer die bestemming in ’n verafgeleë gebied, soos talle plekke in die Waterberg-omgewing, is. Besoekers word aangeraai om die ligging wat verskaf is by hul naaste toersimekantoor, op Google Maps, deur die Waze-toep of deur GPS te bevestig.
  • Vakansiegangers moet altyd op ’n bewys aandring van die bespreking wat gewoonlik die korrekte adres van die bestemming sal aandui.
  • Bestemmings vra gewoonlik vir ’n deposito of die helfte van die koste van die totale verblyf. Groenewald waarsku indien mense op die volle prys aandring, moet die vakansieganger snuf in die neus kry.
  • Banke is geneig om kredietkaarthouers se geld vinniger terug te betaal wanneer betalings deur ’n kredietkaart gemaak is en die kaarthouer dit dadelik aanmeld aan hul betrokke bank se bedrogafdeling, het Groenewald gesê. Vakansiegangers moet ook die bedrog aan die bank wat deur die bedrieër gebruik is, rapporteer.
  • Mense moet versigtig wees vir adverteerders wat webgebaseerde e-posadresse gebruik. Hierdie adresse kan binne minute deur bedrieërs geskep word.

Related Articles

Back to top button