CrimeNews

Hondediewe slaan in Mookgophong toe

Inwoners van Mookgophong word die afgelope tyd geteister deur mense wat honde steel en hulle dan vermoedelik vir dwelmgeld verkwansel.

Die afgelope paar maande was daar gereeld boodskappe op sosiale mediagroepe waar inwoners vertel van diere wat helder oordag uit erwe weggeraak het.

Krummels, die sesjarige Annelize Uys se ses maande oue hondjie het op Sondag 3 Oktober net spoorloos uit hul erf verdwyn. Die hondjie is ’n kruising tussen ’n Yorkie en Jack Russel.

“Vir ander mense is dit seker sommer ’n straatbrakkie, maar vir haar was dit ’n liefdevolle op-en-wakker speelmaatjie,” het haar ouma, Rika Uys, aan Die Pos gesê.

Die Maandag het haar ma, Danelle Uys, na Krummels begin soek en sy het sekere verdagtes genader en gekonfronteer. Sy is verwys na ander gemeenskapslede wat glo honde koop.

Die gesin het ure lank straatop en -af gery en selfs by plekke in Eerstestraat gesoek waar honde is, maar kon haar nie kry nie.

Die hondjie is op Donderdag 7 Oktober dood aangetref by die braai-area in die Uys-gesin se erf.

“Ons het orals op die erf gesoek en elke plek gefynkam en sy was beslis nie daar toe ons begin soek het nie,” het Rika vertel.

Haar lyfie was baie “blou” en die vermoede bestaan dat sy dood is van inwendige bloeding.

Annelize het ’n katjie gehad wat in Mei uitgesit moes word en het toe die nuwe klein hondjie as troos vir haar gekry. Sy is baie hartseer, want haar ouma en oupa is ook vroeër vanjaar oorlede.

Volgens Kobus van Loggerenberg, voorsitter van AfriForum Buurtwag in die dorp, is dit die vierde geval waar klein hondjies vermoedelik gesteel is.

In een geval is die diewe aangekeer, maar die eienaars wou nie ’n klag by die polisie lê nie.

Hy het inwoners versoek om hom dadelik te kontak indien hulle enige verdagtes met honde in die strate opmerk.

Die verdagtes is moontlik ook betrokke by onwettige hondegevegte in die gebied en kan as gevaarlik beskryf word.

Bel Van Loggerenberg by tel. 081 562 8702.

Related Articles

Back to top button