CrimeNews

Een agter tralies ná plaasaanval

Een van die mans wat na bewering betrokke was by ’n onlangse plaasaanval in die Sussenvale-omgewing buite Modimolle, is op Dinsdag 28 September in Pretoria in hegtenis geneem.

Die plaasaanval het laataand op Saterdag 18 September plaasgevind toe vier gewapende rowers die plaasvoorman (19), wat alleen tuis was, erg aangerand en beroof het.

Die rowers het in die voorman se silwerkleurige Volkswagen Polo op die vlug geslaan, maar die voertuig is reeds die volgende dag in Hammanskraal opgespoor.

Volgens AO James Findlay, polisiewoordvoerder, het die Modimolle-speurtak inligting ontvang dat die vermeende rower, ’n 39-jarige buitelander, op die betrokke dag in die Pretoria-landdroshof sou verskyn op ’n aanklag wat verband hou met die besit van gesteelde koperkabels.

Die verdagte het by die hof opgedaag in dieselfde voertuig, ’n donkergrys Toyota Fortuner, wat na bewering tydens die plaasaanval gebruik is.

Die verdagte is in hegtenis geneem nadat hy in die hof verskyn het.

Die Modimolle-taakspan, onder leiding van AO Ross Rossouw, het die verdagte se eiendomme in Hammanskraal deursoek en op van die items afgekom wat glo tydens die plaasaanval geroof is.

Die verdagte is sedertdien in aanhouding en sal op Donderdag 30 September in die Modimolle-streekhof verskyn op aanklag van huisroof. Die soektog na die ander drie verdagtes duur onverpoosd voort.

Lede van die publiek wat oor enige inligting beskik, kan die polisie se stopmisdaadnommer skakel by tel. 08600 10111.

Related Articles

Back to top button