CrimeNews

Twee vas vir gewapende roof by Modi-vulstasies

Die knap speurwerk van die Modimolle-polisie het gelei tot die inhegtenisname van twee verdagtes wat verdink word van die gewapende rooftogte by twee vulstasies in Modimolle.

Die rooftogte het in die vroeë oggendure van Saterdag 7 Augustus plaasgevind waarna die booswigte in ’n silwerkleurige Volkswagen Polo op die vlug geslaan het. Hulle is na bewering ook betrokke by ander misdade in die omgewing.

Die Modimolle-taakspan, onder leiding van AO Ross Rossouw, het inligting ontvang van ’n selfoon wat vermoedelik tydens een van die vulstasie-rooftogte gebuit is en getoon het dat die foon in Thabazimbi is.

Frans Kgoale (23) is kort daarna in hegtenis geneem en het die polisie na nóg ’n verdagte gelei.

Volgens polisiewoordvoerder AO James Findlay, het Kgoale beweer dat sy medepligtige, ’n ene Thabiso Mmotlana (32), by die departement van sosiale ontwikkeling (Sassa) se kantoor in Thabazimbi werk en dat hy op die betrokke dag onderweg was na Brits. Dit is daar waar Mmotlana opgespoor is in vermoedelik dieselfde silwerkleurige Volkswagen Polo wat tydens die rooftogte in Modimolle gebruik is.

Die verdagte is dadelik in hegtenis geneem. Die taakspan het teruggekeer na Thabazimbi waar Mmotlana se woonstel deursoek is.

’n Speelgoedgeweer is glo gevind waar dit buite in ’n ysterpot versteek was. Daar is ook beslag gelê op ’n skootrekenaar wat vroeër tydens ’n rooftog in Mokopane as gesteel aangemeld is.

Mmotlana het na bewering een van die gesteelde selfone verkoop, maar dit is in ’n winkel op die dorp opgespoor.

Volgens Findlay word roof met ’n speelgoedgeweer steeds as gewapende roof beskou en word dit nie in aanmerking geneem as versagtende omstandighede by vonnisoplegging nie.

Albei verdagtes het op Maandag 20 September in die Modimolle-streekhof verskyn.

Hulle bly in aanhouding totdat hulle borgtogaansoek op Maandag 27 September aangehoor word.

Related Articles

Back to top button