CrimeNews

Warrie-matrikulant by stopstraat raakgery

’n Matriekmeisie van Hoërskool Warmbad is in die hospitaal opgeneem nadat sy op Maandag 6 September op die hoek van Gilfillan- en Robertsonstraat in Bela-Bela op haar bromponie raakgery is.

Die 17-jarige meisie, wat tans besig is met rekordeksamen, is in die Warmbad-hospitaal opgeneem vir behandeling, maar is dieselfde dag in haar ouers se sorg ontslaan.

Haar familie het gevra dat haar identiteit nie bekendgemaak word nie.

Haar pa het teen druktyd aan Die Pos gesê sy het erge pyn in haar linkerbeen en heup en kan nie sonder hulp beweeg nie.

Dokters het tot haar gesin se verligting vasgestel dat sy slegs ’n haarlynfraktuur opgedoen het, maar dit sal volgens hulle lank duur voordat sy volkome herstel het.

Reëlings word intussen met die skool getref dat sy die eksamenvraestel wat sy op die dag van die ongeluk moes skryf, op ’n later stadium kan aflê.

Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose en/of nalatige bestuur teen die bestuurder van die bakkie wat haar getref het.

Talle inwoners van die omgewing het die afgelope week ’n beroep op die Bela-Bela-munisipaliteit gedoen om bykomende spoedhobbels by dié kruising (op die hoek waar Robertsonstraat by die Alma-pad aansluit) aan te bring.

Inwoners en sakelui het gesê hulle is bereid om vir die spoedhobbels te betaal, indien dit nie in die munisipaliteit se vermoë is nie, maar dat dié saak dringend aandag moet kry voordat nog ’n ongeluk daar plaasvind.

Kabelo Mosito, munisipale woordvoerder, het by navraag gesê die munisipaliteit het reeds sekere plekke uitgewys waar die behoefte vir spoedhobbels bestaan. Dit sluit onder meer die kruising by Robertson- en Ludorfstraat in, asook verskeie strate in die Bela-Bela-township.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button